Nie vanselfsprekend nie

Nie vanselfsprekend nie

JOHANNES 4:15Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

Ek bevind myself in die skone Kaap. Ek het die voorreg om vanuit my verblyfplekkie ver oor die uitgestrekte oseaan uit te kyk, water waar jy kyk.
Ironies dat daar soveel water in die see is maar dat die Weskaap gebuk gaan onder streng water beperkings vanweë die droogte. Die damme staan op rekord minimum vlakke en oral word mense gevra om water te spaar. Daar is heffings van toepassing vir mense wat meer as die daaglikse kwota gebruik en water vermorsing word onder geen omstandighede geduld nie. Om die see te ontsout is klaarblyklik tans steeds n duur proses en navorsing gaan voort om dit bekostigbaar te maak.
Die lewe is vol metafore (simbole) van die geestelike lewe as n mens daarvoor uitkyk. Van een tipe water is daar n onuitputlike bron. Die probleem is dat hierdie water onbruikbaar is. Sou jy dit konsekwent drink sou dit jou waarskynlik benewens die gesondheidsprobleme laat met n onblusbare dors. Hoe meer jy drink hoe groter word die dors. Dit bevredig nie, lyk soos die ware Jakob maar die uitwerking daarvan is teleurstellend en sal seker op die lang duur die dood veroorsaak. Die ander water gee lewe. Dit het lewenspotensiaal en is duursaam. In die natuurlike is dit tans skaars maar God se lewenswater is beskikbaar vir elkeen wat daarom vra. Jy moet egter daarna soek soos n skat, jy moet dit najaag en nie ophou voordat jy dit gekry het nie. Daarvoor offer jy alles op. Dit is soet en bevredigend op die tong en bevredig jou dors. Wie van hierdie water drink sal in alle ewigheid nie weer dors kry nie kom dit uit die mond van die Bron self.
In n ewe waterskaars konteks (Palestina) reageer die Samaritaanse vrou sonder aarseling “Gee ons daardie water” waarop Jesus antwoord “gaan roep jou man”. Daarmee plaas Jesus die vrou se lewe in konteks sodat sy die geestelike implikasie van hierdie Goddelike aanbod kan verstaan. Lees gerus die gedeelte weer n keer.
Water bring lewe, water is lewe. Dis onontbeerlik en nie vanselfsprekend nie. Dis genade, gawe, onverdiend en kosbaar.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}