Nee vir ʼn bossie bestaan!

Jer. 17: 5 Die Here sê:

“Daar rus ’n vloek op dié wat hulle vertroue stel in gewone mense, en nie op die Here vertrou nie.”

6 Hulle is soos bossies in die woestyn met geen vooruitsig vir die toekoms nie. Hulle sal woon

in ’n verskroeide woestyn, op soutvlaktes waar niemand kan oorleef nie.

Die teks is eerlik en ontwrigtend, mense wat hul vertroue eerder in gewone mense as in God, kom bedroë daarvan af.

“Gewone” mense en God.

Twee pole, verteenwoordigend van twee uiterstes.

Tydelik teenoor ewig, afhanklik teenoor soewerein, aangewese teenoor selfgenoegsaam, gedeeltelik teenoor volledig, so kan ʼn mens voortborduur.

Let asb. daarop dat terme soos “minderwaardig” nie deel van die spektrum is nie. Nee, daarvoor het God die mense net te spesiaal en wonderlik geskep.

Ons is beelddraers van die Hemel, Koningskinders, prinse en prinsesse, die volk van God, sy eiendom.

Tog ken ons ons plek voor die Here van hemel en aarde. Hy is in die hemel en ons is op die aarde. Twee wêrelde wat deur ʼn kruishout, ʼn bloedoffer in die volheid van die tyd, aanmekaar vasgemaak word.

Ons mag ons plek voor God nooit vergeet nie. Dit is tegelykertyd ons krag en ons swakheid.

Krag as ons in dankbare en erkentlike afhanklikheid van Hom lewe.

Swak as dit ons arrogant en aanmatigend laat vertoon.

Metafore en die Bybel is onafskeidbaar. Metafore wil die boodskap onderstreep, aksentueer, bevestig, demonstreer, konkreet maak.

Luister hoe praat die teks oor hierdie misplaaste vertroue op mense, eerder as op God.

Bossies in die woestyn.

Geen vooruitsig nie, dus hulle sal bedroë en teleurgesteld daarvan afkom. Net soos die woestyn nie daarop ingestel is om ʼn diwidend te lewer nie net so staan misplaaste vertroue verleë. Bossies getuig ook van die kaliber mense wat God uit die vergelyking probeer laat. Self onvrugbaar, lewer geen betekenisvolle bydrae nie, is onaansienlik en weglaatbaar.

Die woestyn is nie ʼn aangename en simpatieke omgewing nie. Dit is verskroeide aarde, sê die teks. Dit is asof daar ʼn oordeel oor die woestyn self uitgespreek word.

Leweloos en sonverbrand, soutvlakte, sê die teks. Niemand kan daar oorleef nie.

Om mense eerder as God te vertrou het geen goeie uitkoms nie. Die saak is doodgebore, die saak het geen meriete nie, daar kan geen opbrengs wees nie, die son gaan soos in die saad wat gesaai word uiteindelik tot niks laat kom nie.

Die Here het meer vir ons in gedagte.

Nie “woestyn” nie maar ʼn “paradys bestaan.

Die oorvloed van Deuteronomium.