My hart is nie lekker nie

Die afgelope paar dae was nie lekker nie. Covid 19 het sy eie uitdagings, maar dit is nie waarvan ek praat nie.

Ek het verlede jaar iewers die geleentheid gehad om ʼn reeks prediking waar te neem in Hartwater in die Noord Kaap.  Die mooiste en vriendelikste mense ooit. Die plek is veral bekend vir sy Pekanneute en die dominee het my aan ʼn paar boere gaan bekendstel wat baie aangenaam was. Hulle het met tipiese entoesiasme gewys hoe die boorde gepluk en die neute sorteer word.

Daar het ek die eerste keer gehoor van “dowwe neute”. Aan die buitekant lyk dit soos die ander maar binne is die vrug misvorm of totaal afwesig.

Die  Brand gesin was van ʼn buurgemeente. Soos dominee Martin Coetzer my verduidelik is dit tog maar een groot gemeenskap.

Hierdie week verneem ons van die grusame moord op ʼn bejaarde man en vrou van daardie omgewing asook hul dogter wat besoek afgelê het. Dit is voorblad nuus en oral praat mense daaroor. Vyf verdagtes is in hegtenis geneem en die professionele optrede van die SAP word geloof.

Ek probeer my bes maar kry daarvan nie weggestap in my gedagtes nie. Soos Beeld dit in sy redaksionele kolom stel “ Hoekom voel dit asof ons almal Sondag voor middagete iets kosbaar in Hartswater  verloor het?

Hierdie moorde vorm maar net deel van die ontstellende lot van honderdtal boere in landelike gemeenskappe. Op grusame wyse word hul aangeval, vermink en dikwels vermoor.

Ek wonder wat in die Dan, Breggie  en hul dogter Elzabé se gedagtes gebeur het toe die aanvallers helderoordag  op die toneel verskyn het, middagete onaangeraak op die tafel. 

Sou hulle gebid , na God geroep , dalk gesmeek of probeer onderhandel het?

ʼn  Mens wonder oor wat se soort mense sulke wandade pleeg, wat in hul lewens verkeerd geloop het en wanneer hul gewetens so stil geraak het.

Ek wonder oor die ander boere in die omgewing, of hulle bang is en oor watter teks die dominee eerskomende Sondag gaan preek. 

Jy wonder wat by die begrafnis gesê sal word en of dit sal troos.

Soos baie ander  wonder ek  waarom ons staatspresident plaasaanvalle nie ten sterkste veroordeel nie en wat mense gaan eet as die boere nie meer daar is nie. . 

Ja, ek wonder waarom God sulke dinge toelaat.

Ek sug soos die Gees in Romeine 8.

My hart ( soos die van die res van Suid Afrika)  is seer, teleurgesteld, ontwrig, deurmekaar en soekend, maar ek weier om my oor te gee aan desperaatheid en opgee.

Ons is nie almal so in Suid Afrika nie.

Mag daar vir hierdie land uitkoms kom.

Ek luister gister onderweg na Radio Kansel na die begrafnisdiens van die ontslape Andries Mlangeni   . Die staatspresident lewer die begrafnisrede. Die laaste van die Rivonia agt wat nog gelewe het word as die einde van ʼn era beskryf. Sy lewe het van eerlikheid en integriteit getuig, word allerweë gesê.

Ene Malose Kekana roep die heersende politieke party om die pad waarop hy homself bevind, te heroorweeg. Hulle is lank nie meer by die waardes waarvoor die Rivonia agt gestaan het nie.  Die nuwe geslag leiers stel intens teleur. Eiebelang vier hoogty. Leiers skroom nie om hul sakke vol te prop met dit wat die armes toekom nie.

Mense bel in op die radio as ek van Pretoria af terugry. Die gesprekke getuig van teleurstelling en woede oor die wyse waarop die samelewing onder leiding van die ANC uitmekaar val. Die woord korrupsie kom sonder ophou voor. Baie getuig van ʼn geloofwaardigheidkrisis waarin die leierskap van ons land verkeer. Niemand glo meer dat die regering ernstig is oor die goed wat verkeerd is nie. Twee stele waardes geld. Een vir die publiek en een vir die mense in posisie van mag.

Soos ek terugry wonder hoe ek anders ons samelewing kon gewees het as die Rivonia verhoor nie plaasgevind het of die agt nie lewenslank Robbeneiland toe verban is nie,  as die leiers van ons land die hulpkreet van die onderdruktes gehoor het nie.

Ek dink terug aan die woorde van Nelson Mandela by die Rivonia verhoor

(FULL TEXT: Mandela’s Rivonia Trial Speech | News24www.news24.com › news24 › nelsonmandela › speeches)

“For thirty-seven years – it (ANC)  adhered strictly to a constitutional struggle. It put forward demands and resolutions; it sent delegations to the Government in the belief that African grievances could be settled through peaceful discussion and that Africans could advance gradually to full political rights. But White Governments remained unmoved, and the rights of Africans became less instead of becoming greater.

“who will deny that thirty years of my life have been spent knocking in vain, patiently, moderately, and modestly at a closed and barred door”? (Chief Luthuli )

“I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons live together in harmony and with equal opportunities”.

Daardie ideaal ( demokratiese en vry Suid-Afrika)  word vandag opnuut bedreig deur korrupsie en geweld in Suid Afrika maar anders as in die verlede word daar tans hard en duidelik geklop aan die deur van die ANC.

Mag dit nie verniet wees nie.

Dis ‘n land van kleure en klank

Dis ‘n land van oorvloed en dank

Dis ‘n land waar almal na strewe

Dis ‘n land sonder horison en

Dis ‘n land wat weet hy kan

Ook ‘n blyplek neerlê vir my

(Dis ʼn land Karike Keuzenkamp)