Moenie so gou kwaad word nie

Moenie so gou kwaad word nie

Spreuke 15:1 ‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.
Ai, dis baie moeilik om kritiek te waardeer. Die meeste van ons spring onmiddellik op ons perdjie en verdedig met alles wat jy het. In die proses trek jy jou kwota beledigings en onvriendelike opmerkings nader en probeer met alles om as wenner uit die twisgesprek te tree. Dis onvolwasse en nie hoe Jesus dinge sou gedoen het nie.
Die Here leer ons mos om die ander wang te draai eerder as om in die selfde munt terug te betaal.
Die omroeper van Jakaranda FM is in die warm water oor uitsprake wat sy sou gemaak het. Dat dit inderdaad ongevraag en ongekwalifiseerd aangebied is, kan so wees.  ʼn Mens moet baie versigtig wees om ʼn openbare platvorm te gebruik om jou eie standpunte op mense te probeer afdwing.
Dan weer maan die Bybel dat ons almal sukkel met die liewe tong. Dié lid van ons liggaam is vol eiegeregtigheid en selfsug. Ons saai verwoesting met die tong en die wêreld rondom ons.  Suid Afrika is ʼn klinkklare bewys daarvan. Wie sy tong kan beheer sê Jakobus het inderdaad ʼn ver pad gevorder.
Tumi Morake sê dat haar opmerking met moddergooiery en dreigemente beantwoord word. Ongeag van hoe onredelik haar opmerkings ook al mag wees is dit jammer dat “ons” mense hul standaarde so gemaklik prysgee. Net skuldige mense verdedig en net onvolwasse mense dreig. Die Bybel sê dat  ʼn sagte antwoord ander mense ontwapen en verras.
Kritiek is ʼn uitnodiging tot gesprek. Gesprekke gee insig in die wyse waarop mense na mekaar kyk en is broodnodig vir verhoudingsgroei. Ons sal van ons kleinserigheid moet ontslae raak as ons wil groei en vorder in hierdie land.
Dalk sou ʼn beter respons aan die adres van die dame wees: “Dis duidelik dat jy ons nie ken nie. Ek nooi jou graag vir ʼn koppie koffie sodat ons lekker kan gesels. Mag jy ʼn mooi dag hê”.
Spreuke 7:9      
Moenie gou kwaad word nie: dit is ‘n dwaas wat gou kwaad word
Spreuke 14:29  
‘n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon
ROMEINE 12:20
As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop
Gebed
Here, vergewe dat ons so vinnig op ons perdjie spring.
Help ons om sulke uitdagings stylvol te hanteer.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}
span.s2 {font: 14.7px ‘Century Gothic’; font-kerning: none}

Amen