Moenie jou seerkry wegwens nie.

“Ek sal nooit een van my beserings vir iets anders verruil nie, want ek het al so baie daaruit geleer: Dit het my die mens gemaak wat ek vandag is en ek is trots daarop” Pieter-Steph du Toit n.a.v. die besering wat hy tydens verlede maand se Superrugby-wedstryd teen die Blues op Nuweland opgedoen het. 

Beserings is te ene male deel van die lewe. Niemand kom ongeskonde daarvan weg nie. Die nawerking van die sonde is fel en somtyds betaal ons ʼn duur prys daarvoor.

Die waaroms is legio en meeste bly onbeantwoord in hierdie lewe.

Die lewe gebeur, punt. 

Niks meer en niks minder nie. 

Ook wat die Korona virus (Covid-19) betref. 

Dit is ʼn onvolmaakte wêreld, die Koninkryk van God waar geen onvolmaaktheid gedy nie beur ʼn pad in hierdie wêreld oop.

Ons het deel daaraan. Ons roep en beywer ons daarvoor dat elke samelewingsverband buig voor die Koningsheerskappy van die drie enige God. Dit gebeur gestadig en in God se tyd. Intussen is daar beserings.

Om jou beserings te verwens help nie. Dit maak dit eerder nog pynliker.

Ons beserings verskil en daar is nie ʼn klinkklare resep om daarmee te deel nie.

Veel eerder moet ons God toelaat om ons te vorm soos Hy wil. Vir wie Hom vertrou werk alles ten goede.

Op die oomblik maak die omstandigheid wat jou te beurt geval het nie sin nie. Jy is geviktimiseer en ervaar die aanslag as onregverdig. Jy wil hê iemand moet verantwoording doen. As dit nie jyself is nie verwyt jy  God, die lewe, omstandighede, vriende en familie, ook die sg. noodlot wie en wat dit ook al mag wees. 

Dis ʼn pad sonder troos en berusting. 

Bely weer wat jy weet. 

God is goed. 

Hy is die Beskermer van Israel. Hy dra en verdra. Hy is betroubaar en sagmoedig.

“This too shall pass”. 

Intussen bid jy – Here, wat leer hierdie besering my van myself, van U, van ander, die lewe, die oomblik..?

Deel met ander as jy hierdie bydrae sinvol vind asb. 

Groete

Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster