Moenie die wind jaag nie

” `n Windpomp gaan soek nie die wind nie. Hy staan en wag en weet dat die wind hom sal kry”

Ek loop hierdie raak gedagte raak op die internet raak. Daar is versteekte humor in die voorbeeld wat gebruik word. Kan jy jouself ʼn windpomp uitasem agter die wind aan voorstel?

Natuurlik gebeur dit nie. Die windpomp is geplant en gevestig in sy roeping. Hy weet wat van hom verwag word en is daarvoor gereed. Op die regte tyd sal die wind sy speke laat draai en sal hy aan sy doel beantwoord. Die water sal dankbaar uit die aardse diepte bevry word en die opgaardam vul. Die dorre aarde, mens en dier sal juig omdat die windpomp nie sy pos verlaat het opsoek na alternatiewe nie.

Iets daarvan is waar van ons lewens. Somtyds raak ons ongeduldig wanneer dit wil voorkom of God se beloftes onvervuld bly. Ons raak paniekerig en begin soos Abraham eie planne maak. Ons almal weet waar dit hom gebring het!

Ons taak is om bewus van wie en wat ons is en waartoe God ons roep geduldig te wag op die wind van die Gees. Op die regte tyd sal die seisoen draai en sal ons die vrugte dra waarvoor God ons bestem het.

God is getrou. Hy is opgewonde en begerig om jou te gebruik. Om voortydig die vrugte ryp te druk gaan egter nie werk nie. Wees getrou, God sal jou nie teleurstel nie.

Groete

Jannie Pelser