Misluk vorentoe (Fail forward)

Mislukking is te ene male deel van die lewe. As jy nie probeer nie, kan jy nie misluk nie. Dis veilig, maar onbevredigend.
Min dinge wat die moeite werd is kom sonder probeer en weer probeer. Daar is legendariese stories van mense wat met fenomenale innovasies gekom het maar eers na talle pogings, baie opoffering en somtyds venynige gespot van ander geslaag het. 
Die spotters verklik hul eie verleentheid en gebrek aan innovasie, moed en oortuiging. Ek weet nie waarom ons onsself so laat intimideer deur draadsitters nie.
Ons het ook saam met Christus gesterf en “dooie mense” is nie vatbaar vir ander se venyn en grynslag nie!
Ek hoor die afgelope naweek die uitdrukking “failing forward”.
Ongelukkig het mislukking die potensiaal om mens volledig van koers af te gooi en te laat moed verloor. Feit van die saak is egter  dat die volgende rondte genoegdoening en sukses mag inhou, jy weet dit net nie.
As jy opgee sal jy nooit weet nie. 
As dit weer nie werk nie het jy nog iets geleer en leer is die manier waarop ʼn mens uiteindelik slaag.
As jy suksesvol is staan  jy dankbaar en  in verwondering dat die Here jou met soveel kon toevertrou.
Moenie opgee nie! 
Misluk met grasie en nederigheid. 
Moenie dat trots en hoogmoed jou te gou laat ophou nie. 
Bly leer, probeer, volhard en groei. 
Dis dalk die volgende rondte wat jou gaan laat glimlag en die wêreld ʼn beter plek gaan maak.