Middernag en steeds wakker

Markus 14:35    
“Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie…”
Matt.25:6           
“En middernag was daar ’n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!”
Dit is erg om teen die slaap te veg. Miskien moes jy al ver paaie reis en het jy gesukkel om wakker te bly, veral rondom middernag.  Of dalk het jy al aan ʼn gebed sessie deelgeneem wat deurnag sou plaasvind. Teen middernag was die skrif aan die muur.  As kinders het ons dikwels gekuier met die voorneme om nie te gaan slaap nie. Middernag het telkens gewen.
Slaap is essensieel en ʼn voorreg. 
Daar is egter tye en omstandighede waar slaap nie die aangewese ding is nie. Wanneer die belofte uitbly en jy begin moed verloor. Dit word spreekwoordelik middernag en nog niks het gebeur nie. Jy begin twyfel soos ons almal doen en reken die kool is die sous nie werd nie. Jou kragte word min, jou deursettingsvermoë tot die uiterste beproef en jy wil liewer slaap en vergeet en opgee en wegstap.
In die Bybel het betekenisvolle dinge om middernag plaasgevind. Die tien meisies met hul lampe is daarvan ʼn goeie voorbeeld. Vyf was verleë en het die bruilof misgeloop omdat hulle nie voorbereid was nie. Die deure is gesluit en hulle kon nie toegang verkry nie. 
Is dit amper middernag in jou situasie? Is jy by opgee en moed verloor se vlakte?
Baai jou hele gesig in lekker koue water dat jy kan wakker word. Loop spreekwoordelik  om die huis en asem die koel lug in. Kyk na die sterre en verlustig jou in die skepping.
Dan weer verder wag. 
Die uitkoms mag nader wees as wat jy dink.
Groete
Jannie Pelser
ToekomsVenster