Mag die sagte reën van God se genade oor ons land daal

Vanoggend word ek wakker met die aangename en verkwikkende klank van sagte reën wat val. Nie donderstorm en blits reën nie, maar subtiel en deurdringend. Oudergewoonte stap ek buitentoe om my daaglikse honger na vars nuus te bevredig. Die koerant lê vir my en wag. Dis ʼn groot teleurstelling as ek die oggend buite toe stap en my porsie nuus is nie gereed nie. Ek eet stadig daaraan terwyl ek vra waarheen God met ons op pad is.
Gewoonlik as dit reën kom die koerant verseël in ʼn plastieksakkie. Van herwinning is daar nie sprake nie. Die sakkie is styf geknoop en my geduld is net te min om die storie los te wikkel. Met brute ongeduld ruk ek die sakkie af om by die gebeure van die dag uit te kom. 
Vanoggend, en dit gebeur somtyds wanneer die reën onverwags opdaag, is die koerant effens nat. Nie deurdrenk nie maar genoeg om daarvan bewus te wees. Dis nuus onder die genade reën van God want ons glo en bely mos dat alle reën van die Here af kom. 
Ek dink dadelik aan die gees implikasie daarvan. 
Die gebeure van die dag, hoe ontstellend ook al by tye, toegemaak in ʼn genade kombers. Dis wat ons land broodnodig het veral in ʼn tyd waarin emosies hoog bloei.
Enersyds die verwagte nuwe wetgewing rakende die onteiening van grond sonder vergoeding. Dit verder gestook met ondeurdagte uitsprake van sommige politici en ek huiwer nie om Julius Malema se naam te noem nie. Hy verkondig sy politieke bankrotskap luidkeels. Nou dat mnr Zuma uit die pad is en korrupsie en staatskaping inderdaad aandag kry moet hy ʼn nuwe wysie kry. “Na die hel met die witman” sing lekker maar dis oorlogs- en strydliedere. Dit maak nie vir goeie geskiedenis nie, mnr Malema. Gaan jy jou mense kos gee of gaan ons toekyk hoe konvooie van die VV met rooi kruis tekens daarop, soos in Sirië noodvoorraad vir die oorlogsgeteisterde massas aanry.
Dan weer die oorlogspraatjies uit eie geledere. 
Hoe onverantwoordelik en ondeurdag. Max du Preez help ons as hy se dat ons nie ʼn goeie krisis moet mors nie maar die geleentheid gebruik om volhoubare en realistiese oplossings vir die grond kwessie te kry.
Maar God dank die reën bly nie uit nie. Daar is baie mense wat vanuit ʼn Koninkryksdimensie na die gebeure van die dag kyk.
God is met ons op pad. 
Ons word herinner aan die bykans bonatuurlike wyse waarop die Here ons tydens demokratisering van burgeroorlog bewaar het. Dit sal tragies wees as dit twintig jaar later gebeur. Dit mag doodgewoon nie. Nou is die tyd dat ons die sagte, deurdringende genade reën van die hemel nodig het sodat ons deurdag en met onderskeiding deel word van die groter gesprek.
So gestadig en onverwags as wat listeriose by die agterdeur ingekom het skuil die kiem van vernietiging eweneens in die onverantwoordelike uitsprake en optrede van mense aan beide kante van die spektrum.
Versigtig wees, dis sensitiewe tye. Daar is God dank heerlike tekens van herstel want dis mos wat gebeur as die reën val. Die natuur reageer, dit kan nie anders nie. Dis so geprogrammeer. Die aarde kan die goedheid van die hemel nie weerstaan nie. 
Nuwe lewe breek uit die grond. 
Verskeie ondersoeke na staatskaping, die nuutgestigte regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo ondersteun deur ʼn formidabele span kundiges gee hoop. Vandag se Beeld opskrif lees “ Staatskapers, ons kom” Zondo beloof dat kapers, ongeag wie hulle is met die volle implikasie van die reg te doen sal kry.
Ook gister se koerantopskrif verkondig dieselfde voorneme “ Kaap die staat terug”, die kern van die boodskap van Pravin Gordon, minister van openbare ondernemings tydens ʼn konferensie in Pretoria. Dalk balanseer die positiewe ontwikkelinge darem die ontsteltenis oor grondonteiening op ʼn manier. Dalk kan wat terug gekry word aangewend word om grondeienaars regmatig te vergoed.
Come Holy Spirit
Dark is the hour
We need your filling
Your love and your mighty power
Move now among us
Stir as we pray
Come Holy Spirit
Revive your church today. 
Groete
Jannie Pelser
Rant en Dal Gemeenskapkerk