Kies verantwoordelik
1 van 3
1 SAMUEL 12:1
Samuel het vir die hele Israel gesê: “Kyk, ek het aan julle versoek toegegee; soos julle vir my gevra het, het ek ‘n koning oor julle aangestel.
1 SAMUEL 12:13
“Hier is dan nou die koning vir wie julle verkies het, op wie julle aangedring het. Kyk, die Here het ‘n koning oor julle aangestel.
Die geskiedenis met betrekking tot hierdie gedeelte is bekend. In navolging van die volkere rondom Israel wil hulle ook ʼn koning hê wat oor hulle regeer. Ek dink nie dat hulle per se God se koningskap verwerp nie maar ʼn fisiese gestalte van sy heerskappy onder hulle soek. Samuel is aanvanklik nie daarvoor te vinde nie maar omdat hulle reeds hul gedagte daaroor opgemaak het gee hy toe. Saul word as die eerste koning van Israel aangestel en die volk word gemaan om hom te gehoorsaam.
Ons leef aan die vooraand van die sesde algemene demokratiese verkiesing in Suid Afrika. Die atmosfeer is gelaai en die verkiesingsowerheid het selfs politieke partye opdrag gegee om kiesers ruimte te gun om na te dink en te besluit. Die opwinding is tasbaar en herinner amper aan die manier waarop die Amerikaners dinge doen. Politieke advertensies was nog nooit so oorspronklik en aantreklik soos hierdie keer nie.
Stadions loop oor wanneer politieke ikone daar gaan opdaag. Opruiende en emosie belaaide toesprake word gelewer. T hemde het sinoniem met politiek geraak. Dis ʼn see van blou, geel en rooi.
Woensdag is die groot dag. Net die toekoms sal leer waarheen ons op pad is. Daar mag ʼn groot verrassing vir ons almal voorlê. My gevoel is dat ons ʼn interessante toekoms tegemoet gaan wat op ʼn mespunt balanseer.
Ons het wysheid, genade en beskerming nodig.
Daar lê uitdagende dae voor.
Om te mag stem is ʼn besondere voorreg. God gee aan elke mens ʼn stem. Dit is deel van sy verkiesende genade.
Die belangrikste stem wat ʼn mens ooit kan uitbring is die een vir God, sy Koningsheerskappy en aanspraak in jou lewe. Ek vertrou jy het daardie kruisie al getrek.
In afgeleide en oordragtelike sin is die kruisie wat jy Woensdag gaan trek ʼn refleksie van ons verwagting, droom en roeping dat die Koninkryk van God sal kom. Is daar ʼn politieke groepering wat dit as sy vernaamste verklaarde manifes het.
In kort die beste welwese, geleentheid, gesondheid en voorspoed van elkeen van God se kinders, sonder aansiens des persoons.
Net omdat jy met ʼn skepsel van die lewende God te doen het.
Ons moet mooi dink en mooi stem. Ons moet stem. Ons moet stem met die wysheid wat God gee. Ons moet rekening hou met die Een wat die lotgevalle van alle mense in sy hande hou.
Ons vir jou Suid Afrika.
Ps. Deel (share) as jy dink dis die moeite werd.