Maandag Blog

Ek luister vanoggend na ʼn verkeersverslag op die radio waar padverbruikers aangesê word om ʼn alternatiewe roete te oorweeg en te gebruik omdat ʼn sekere pad vanweë ʼn protesaksie gesluit is.

Nou ja, dienslewerings en ander protesaksies het deel van die Suid Afrikaanse konteks geword. Dit is hartseer na twee kante toe.

Enersyds dat burgers somtyds buitensporige dinge moet doen voordat die owerheid, plaaslik of nasionaal, na hulle luister. Aan die anderkant is dit hartseer dat hulpbronne wat juis in plek gebring is om agtergeblewenes te help, in die proses, meestal deur radikale elemente, vernietig word.

Die kriminele element kan nooit uitgeskakel word nie.

Plundering, brandstigting en vermorsing is aan die orde van die dag.

Ek wil egter nie verlei word om oor hierdie saak te skrywe nie. Dit gaan eerder oor die gedagte van alternatiewe roetes en die moontlike toepassing daarvan op ons geestelike lewens.

Wanneer motoriste in die motor klim het hulle tog duidelik ʼn bestemming in gedagte. Dit mag hul werkplek, ʼn sosiale afspraak, ʼn doktersbesoek en derglike dinge wees.

Sodra die bestemming gedefinieer is word nagedink oor die aangewese roete. Die mees effektiewe een word gekies waar daar nie ʼn klomp onnodige oponthoud gaan wees nie. Ander sake soos tolhekke of swak infrastruktuur mag ook oorwegings wees.

As die roete eers duidelik gedefinieer is begin die reis.

Dan kom die aankondiging.

“Kies ʼn alternatiewe roete. Die een waarop jy besluit het gaan jou nie by jou bestemming uitbring nie”.

Jy mag besluit om om te draai en terug te keer huis toe. Dan was die afspraak seker nie so belangrik nie. As die saak egter een van dringendheid is maak jy ʼn plan. Jy gaan jou nie laat intimideer nie. Die duiwel is duidelik besig om jou te probeer ontmoedig en frustreer maar jy weet nie van opgee en handdoek ingooi nie.

Ja, die getuienis is verdoemend. Die pad is gesluit. Alles in jou wil terugkeer na die veiligheid van jou huis en woning. Waarom sou jy die moeite doen veral as die ompad ʼn hele aantal ekstra kilometers en ontwrigting beteken?

Dit hang egter af hoe belangrik die bestemming is!

Hoe belangrik is jou geestelike bestemming en wat is dit?

Ek glo dit is om die woorde van Jesus te hoor –

Matt.25:23

Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf.

Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel.

Kom in en deel in my vreugde!’