Love is a leap of faith

Love is a leap of faith

Ek hoor gisteraand hierdie pragtige frase raak in ʼn program op TV. Dit sit my gedagtes aan die gang. Almal wil liefhê maar is bang vir verwerping. Sommige verwerping is onmiddellik en ander uitgestel. Iewers langs die pad ervaar ons almal iets daarvan. Kan ons liefhê te midde van verwerping?

Jesus het na sy eiendom gekom en hulle kon nie onderskei dat Hy die lang verwagte Messias was nie. Hulle het Hom met agterdog bejeën en uiteindelik aan heidene uitgelewer. Ons sien Hom aan ʼn eensame vloekhout hang maar die woorde wat oor sy lippe spoel is woorde van genade en liefde ten spyte van.

Dit is interessant hoe Hy  die twee rowers wat saam met Hom gekruisig word hanteer. Die een spot en die ander beroep Hom op genade. Vir die een wat om genade smeek gee Jesus hoop. Die ander laat Hy laster sonder om Hom tereg te wys. Hy reageer nie met “weet jy wie Ek is nie. Jy gaan nou spyt wees, jou dwaas. Die hel is vir jou voorberei”.

Hy antwoord Hom doodgewoon nie en wil ek glo, bly hoop dat daar insig by hom sal kom. Ek glo Hy bid in die stilligheid vir die stompsinnigheid van hierdie man.

Jesaja sê dat Hy stom was voor sy skeerders.

Pilatus vra waarom Hy hom nie verdedig nie.

Die versoeking om legioene engele te roep om Hom van die kruis te bevry en met die gepeupel te deel soos hulle verdien kom nie by Hom op nie.

Hy bid eerder, Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Baklei jy terug, soek jy wraak? Dit is die natuurlike reaksie van selfhandhawing. Dis hoe gewonde mense reageer. Dit is trots en hoogmoed verdoesel as ʼn sin vir waarheid en geregtigheid. Dit beteken nie dat jy ʼn saak nie met die ander sal gaan bespreek nie. Dit beteken net dat jy nie altyd reg hoef te wees nie, al is jy reg.

Kan jy liefhê selfs al roep alles daarteen?

Liefde deur geloof.

Liefde soos Jesus dit gedoen het.