Liefde wen

Ek luister vanoggend op weg na Pretoria na die mooiste storie op die radio. Die detail is nie nou belangrik nie en ontgaan my ook plek plek. Dit gaan oor karp hengel digby Krugersdorp. Tot onlangs was die sport primêr deur blanke mans beoefen. Nou is daar twee swart persone ( ai tog, so jammer dat ons nog in swart, bruin en wit terme moet dink) wat begin het om die sport te beoefen. Een van die twee, verbonde aan ʼn universiteit droom egter om sy spesiale aas voltyds te bemark. So gebeur dit dat ʼn oom en tannie die vreemde maar suksesvolle  hengelaar met groot oë aangluur.

Terwyl hul vangs wegbly trek hy die een na die ander karp uit. (die visse word weer ter water gelaat). Met dié stap die tannie nader en bied verskoning aan vir die oom wat so suur is. Sy verneem na die suksesvolle hengelaar se geheim en hy deel van sy spesiale doepa met haar. Nie lank nie of sy behaal sukses. Die oom is nou nie net suur nie maar ook jaloers en vra ook na die lekkerny wat die karp nie kan weerstaan nie. So word die atmosfeer tussen hierdie hengelaars opgelos en die drie is vandag die grootste vriende.

Onbekend maak onbemind. Oorstap en gaan gesels bou brûe van begrip en versoening. Ons het hierdie brûe broodnodig in ons land Suid Afrika. Ons moenie dat vooroordeel en agterdog, veral vrese en veralgemening, die geleentheid om oneindig verryk te word deur ander te leer ken, van ons ontneem word nie.

Mense is essensieel dieselfde. Ons almal begeer ʼn veilige ruimte waarbinne ons waardeer en verwelkom word. Ons almal het betekenisvolle verbintenisse nodig.

“No man is an island” lui die spreuk.

Stap vandag oor en bedel ʼn bietjie van daardie spesiale kossies. Daar word dalk ʼn vriendskap gebore.

Joh.17:21 21      

Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.