Lank lank gelede was daar …

Lank lank gelede was daar …

Soos enige oupa spog ek graag met my kleinkinders. Wat ʼn groot voorreg om as’t ware ʼn tweede geleentheid te ontvang om pa te wees. (met die voordeel dat jy hulle huis toe kan stuur as jy moeg gespeel is)
Ek moet tot my skaamte erken dat ek nie genoegsame tyd aan ons eie kinders gegee het gedurende hul vormingsjare nie. Baie ouers kan daarmee identifiseer omdat die verantwoordelikhede gedurende daardie fase van ʼn mens se lewe uiteenlopend en veeleisend is.
Dis loopbaan bou te midde van ʼn hoogs kompeterende wêreld waarin baie gereed staan om by jou oor te neem as jy die mas nie opkom nie. Teen die kinders hul verskyning maak is ma en pa nog jonk getroud. Aanpassing, mekaar leer ken en akkommodeer verg baie aandag.
Finansiële druk maak dat beide ouers moet werk en dit beteken dat moegheid gou intree. Kinders het gewoonlik uiteenlopende belangstellendes en het ʼn regmatige verwagting dat hul ouers hul hierin sal ondersteun. Genoeg om sommer uitasem te raak.
Deur die genade van die Here word die jongspan groot en neem verantwoordelikheid vir hul eie lewe. Vir hulle begin die stryd maar vir ouma en oupa tree daar ʼn groter rustigheid na vore (sommige van ons) wat meer tyd laat vir die kleinkinders.
Oupa moet vir klein Karlu (amper 5 jaar oud) skooltoe neem sommige oggende. Dis storietyd en oupa kan al verskeie kinderboeke laat verskyn het. Mens kry ʼn idee en gee vrye teuels aan jou verbeelding. Nie lank nie of jy begin dit geniet en staan self verbaas oor waar jou storie oral draai.
Kleinkind sit vasgenael en luister grootoog na alles wat jy opdis, met die enigste aanduiding dat dit net ʼn storie is aan die begin daarvan. “Lank lank gelede was daar”, vandag drie varkies en more drie beertjie en so kan ons aangaan.
Die wonderwêreld van kind wees.
Ai, Die lewe is wonderlik.  
Here, dankie vir die voorreg om mens te wees.
Amen.