Kry jou sake in orde

Ek is lief vir fliek maar kry heeltemal te min geleentheid daarvoor. Wanneer ons wel die kans het waag ons dit met fliek op TV. Gelukkig kan ʼn mens goeie rolprente opneem en later kyk.

Dit gebeur toe met die fliek “Act of Valor”.

Die storie lyn het te doen met mense wat hul lewens waag in belang van die veiligheid van ander. ʼn Terroriste sameswering om terreurdade in die VSA uit te voer moet in die kiem gesmoor word.

Uiteraard is die kans dat die manne ongeskonde van so ʼn operasie terugkeer min omdat hulle uiterste omstandighede in die gesig moet staar.

Die fliek begin met aanvoerder van die manne wat hul oproep om seker te maak dat dinge tuis “in orde” is. Te midde van groot gevaar is daar nie tyd vir wonder wat by die huis aangaan nie. Om dan te worstel met onvriendelike woorde wat geval het net voordat jy op die missie vertrek het, is fataal. Fokus is van die uiterste belang. Jou en die lewe van jou mede soldate is op die spel. Daar kan nie verdeelde aandag wees nie.

Die fliek en die oproep van die aanvoerder van die manne het my laat dink aan die uitdagings waarmee ons as kinders van die Here elke dag te doen het. Ons moet ook sorg dat dinge “reg” is by die huis, by wyse van spreke. Die lewe is onseker en om te dink dat dinge wat agterweë gebly het selfs vanaand reggemaak kan word is ʼn luukse waarvan niemand verseker is nie. Daarbenewens vereis die taak op hande, die deurbreek van die Koninkryk van God, onverdeelde aandag.

Maak reg en leef reg.

Wees gou om jammer te sê.

Los die selfsug en hardvogtigheid. Jy hoef nie altyd te wen en reg te wees nie.

Wees vir ʼn slag die minste, dit sal jou die skade doen nie.

Dra Jesus se manier van dinge doen en leef in jou omgewing en konteks in.

Hê ʼn Jesus gesindheid.

Wees sagmoedig en ontvanklik vir jou medemens.

Moenie met verwyte leef nie. Die tyd waarvan ons deel is vereis fokus, soos op die oorlogsveld. Immers die Bybel leer ons dat ons in ʼn stryd gewikkel is, dan nie?

Die Bybel sê, sover as wat dit van jou afhang, leef in vrede met alle mense. Rom. 12:18