Kleine Engeltjies kleuterskool karnaval

Ek wil vandag by voorbaat verskoning vra as iemand aanstoot neem deur hierdie blog. Jy ken my immers al lank en ek vertrou dat jy my integriteit in alles aanvaar.


Ons het die afgelope naweek ʼn funksie aangebied saam met die Kleine Engeltjies Kleuterskool in Rant en Dal. So ʼn vreugde om met kinders te werk en instrumenteel te wees in hul vorming vir die lewe. Dit was ʼn groot affêre en die logistieke wat dit onderlê is besonder kompleks.


Die organiseerders het seer sekerlik die reg om reëlings te tref wat die veiligheid van die kleuters asook ander besoekers verseker. In die verband was dit belangrik dat daar nie besoekers voertuie op die terrein toegelaat word nie, veral omdat die brandweer en ander noodvoertuie as deel van die aanbieding later met groot fanfare sou opdaag. Juis daarom is twee jongmense aangestel om by die toegangshek vriendelik te vra dat besoekers buite die terrein parkeer. So het dit gebeur dat sommige mense op die twee amptenare geskel het en dat een selfs ʼn pistool te voorskyn gebring het.


Ek skaam my ten diepste en het die twee jongmense wat ook by Toekomsvenster in opleiding is, verskoning gevra vir die onvriendelike, ja brutaal ongeskikte optrede.


So bou ons nie ʼn nuwe Suid Afrika nie.
Ek is verontrus, teleurgesteld en hartseer.
Al wat ek die jongmense kon verseker is dat dit nie ONS mense is daardie nie.