Kan nie met ons gebeur nie

Kan nie met ons gebeur nie

Verlede Sondag het ek die voorreg gehad om in my tuisgemeente, Rant en Dal, die Woord te bedien. By die geleentheid het ek verwys na die hartseer gebeure in Las Vegas waar bykans sestig mense dood en honderde beseer is nadat ʼn oud polisieman soos ʼn besetene op ʼn onskuldige skare konsertgangers losgebrand het. Onverstaanbaar.
Dis maar een van soveel rampe wat die VSA die afgelope maande getref het. Dis ook waar van verskeie lande in die wêreld.
Wat my van die Las Vegas gebeure getref het was die meelewing en ondersteuning wat daar van ander burgers gekom het. Heldeverhale van mense wat ongeag hul eie veiligheid beseerdes en getraumatiseerde mense gehelp het, het die verbeelding aangegryp.
Ek het die gemeente gevra of ons dink dat hierdie goed nie by ons kan gebeur nie. Dis mos ver en verwyderd en aan die anderkant van die wêreld.
Gister het ʼn tornado ons deel van die land getref en verwoesting gesaai. Groot skade is aangerig en ek vertrou dat daar nie lewensverlies was nie. Ek het veral gedink aan die sg. informele behuisingsplekke (shacks) en die mate waarin ontwrigting daar gesaai is.

Dié beelde haal nie die media nie.

My boodskap aan die gemeente was om die deposito barmhartigheid en deernis in die harte van gelowiges in so ʼn tyd vleuels te gee.
Mag die Here ons ʼn sensitiwiteit en gehoorsaamheid skenk om te midde van skade en ongerief iewers hand by te sit en hulp te verleen. Ook daar waar die koerante en TV nie kom nie.

Here, ons buig voor U almal.

Wie kan sonder U bestaan?
Amen.


p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}