Jy kan veertig dae sonder kos bly…

Jy kan veertig dae sonder kos bly, drie dae sonder water en agt minute sonder suurstof. Maar jy kan nie ‘n sekonde gaan sonder hoop nie.

Die Bybel sê, hoop beskaam nie (Rom.5:5) en is ten diepste ʼn boek van hoop. Nie net hoop op die ewige lewe nie maar hoop hier en nou te midde van somtyds oorverdowende negatiewe omstandighede.
Die gevaar is groot dat Suid Afrikaners kan opgee op hoop. Dan is ons ʼn gevaarlike vaarwater. Waar hoop verdwyn tree al die slegte dinge waarmee ons gekonfronteer word meedoënloos na vore. Die krag van die slegte in ʼn atmosfeer van negatiwiteit is ongeëwenaar. Oornag word alles in chaos gedompel.

Hoop gee nie op nie, gooi nie handdoek in nie en trek die skouers nie op nie.
Hoop bied nie verskonings aan vir ʼn laat dit vaar lewenshouding nie.
Hoop neem nie nee vir ʼn antwoord nie.
Dit bly glimlag al is die pyn oorverdowend.

Hoop maak nie asof daar nie uitdagings is nie maar het ʼn “back to the drawing board” benadering.
Hoop bou nie mure rondom jou bestaan om ander uit te sluit nie.
Hoop sien ander se potensiaal raak en doen moeite om dit te help ontwikkel.
Hoop getuig dat die nuwe dag altyd weer aanbreek, dat die son altyd weer opkom, dat geloof seëvier.

Hoop is liefde en geloof in die praktyk.
Hoop fokus nie op wat verkeerd is nie maar skraap diep om ʼn stukkie positiwiteit te kry waarmee gewerk kan word.
Hoop getuig dat dit net ʼn hekkie is waaroor gekom moet word, leer by die geskiedenis en bely dat God in beheer is.

Die Bybel sê Abraham het bly glo toe daar nie meer hoop was nie het hy steeds gehoop dat die beloftes van God sal realiseer net omdat God dit gesê het.
Hoop gaan slaap met ʼn danklied in die hart en staan op met verwagting.
Hoop omarm elke moontlikheid en plant bome al is die wederkoms more.
Daar is baie hoop rondom ons as ons net daarvoor uitkyk.

Sy is nie van Suid Afrika nie maar ʼn Sweedse sestienjarige omgewingsaktivis, Greta Thunberg, is op pad van die VN om as afgevaardigde spreker ʼn pleidooi te gaan lewer dat wêreldleiers die uitdagings wat met aardverwarming gepaard gaan, sal ernstig neem. Sy verkies om nie te vlieg nie vanweë die uitlaatgasse en is op ʼn seiljag met beperkte ruimte en wat van geen meganiese stukrag gebruik maak om sy bestemming te bereik, vir twee weke op storm see. Ons moet vir haar en haar metgeselle bid. Dit is ʼn eietydse gestalte van hoop.

Jongmense van ʼn buitegewoon arm gemeenskap in Limpopo, die Ndlovu Youth Choir, word begroet met ʼn staande ovasie as hulle aan die bekende America`s got talent in die VSA deelneem. Hulle dring deur na die finale en is na my wete weer op pad daarheen. Hul dring deur met die lied My African dream

Van die lirieke lui –

‘Cos in my African Dream
There’s a new tomorrow.
My African dream
Is a dream that we can follow.

And though it could seem
My hope is an illusion
My African dream
Is an end to the confusion.

Dit is ʼn gestalte van hoop.

ʼn Skool koor van Rustenburg gryp die verbeelding aan met hul vertolking van Bohemian rhapsody. Nog ʼn gestalte van hoop.

Een honderd jongmense onderskei hulself as toekomstige leiers in ʼn kompetisie wat leierskap, innovasie, ens. toets. Die name van die 100 young Mandelas is pas bekend gemaak. Pragtige jongmense, uitvoergehalte, stralend met potensiaal. Dit is ʼn merkwaardige gestalte van hoop.

Tienduisende mense daag steeds op Sondae by ʼn erediens op om te aanbid. Dit is ʼn belydenis van hoop.

Ek word telkens vriendelik gegroet by ons plaaslike motorhawe wanneer ek brandstof ingooi. “Marutie, hoe gaan dit?”. Daar is hoop.

Honderd duisende mense is vanoggend met allerlei vervoer op pad werk toe om vir ʼn beter toekoms te werk. Hoop in aksie.

Hoop se vlam kan nie uitgedoof word nie.
Hoop het ʼn naam.
Sy naam is Jesus.

Hoop is om die droom weer te omarm.
Suid Afrika het hoopvolle mense nodig
Mag jy ʼn hoopvolle dag hê.