Jy hoef dit nie te besit nie

Ek hoor nou die dag die pragtige waarheid raak. In ʼn toneel wat in ʼn film afspeel vra ʼn dame of ʼn sekere item aan haar vriend behoort. Sy verwys na ʼn pragtige antieke vaas.

Dié versamelstuk behoort egter nie aan hom nie maar aan sy pa wat ʼn versamelaar is, maar met winsoogmerk. Hy sien dit net  as ʼn belegging en as deel van sy rykdom. Hy het bitter min waardering vir die skoonheid daarvan. Die seun daarenteen sien die skoonheid en meesterlike handewerk daarvan raak. Dit, sê hy, maak van hom meer van ʼn eienaar as sy pa.

Sjoe, dit is nou ʼn mooie gedagte!!

Wie met bewondering na die mooi wêreld kyk wat God gemaak het, die skoonheid van sy handewerk, die krag, mag en liefde wat daardeur uitgestraal word, verstaan en beleef veel meer as die persoon wat die titelakte besit, maar sonder verwondering.

Mens hoef nie alles te besit ten einde dit te waardeer nie.

Daar is iets soos ʼn gemeenskaplike rentmeesterskap. God roep ons om sy handewerk op te pas. Ons aarde is stukkend en plek plek so verniel dat dit ʼn mens seermaak. Die Bybel sê die aarde sug en is soos ʼn vrou wat verlang na ʼn kindjie se geboorte.

Eendag sal die vernielsug verbygaan en sal die aarde na sy oorspronklike bedoeling herstel word.

Het jy nog waardering vir God se handewerk? Dit is nie net in die natuur nie maar in jou medemens. Dit is in jouself.

Dink aan Ps.139 waar die Psalmdigter met waardering verwys na wat God gemaak het.

Jy mag dit nie alles besit nie, maar dit beteken nie dat jy nie skatryk is nie!!

Lied 464

Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes

Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind

O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles

en U sorg dag na dag vir my, U kind.

Dan moet ek juig, my Redder en my God!

Hoe groot is U, hoe groot is U!

Want deur die hele skepping klink dit saam

Hoe heerlik Heer U grote Naam!