Jer. 17:5-8 Gewone mense kan nie help nie

Die Here sê:

“Daar rus ’n vloek op dié wat hulle vertroue stel in gewone mense, en nie op die Here vertrou nie.

Die Bybelse taal is somtyds skokkend eerlik. Ek huiwer somtyds voor die woorde wat gebruik word. Die Bybel is ontstellend eerlik en draai nie doekies om nie.

Een so ʼn teks is die in Jer. 17 vers 5. Dit begin met die woorde – “daar rus ʼn vloek op die wat hul vertroue in gewone mense stel en nie op die Here vertrou nie”.

Die woord “vloek” is nie ʼn “lekker” woord om mee te werk nie. Ek sou verkies dat die Bybel dit sag maak en sou wou voorstel dat daar staan “dit onwys is om op mense te vertrou in stede van die Here”.

Uiteraard is dit waar maar dit is nie die konteks van die aangehaalde teks nie. “Vloek” is ʼn sterk woord en wil die erns van die oortreding of aksie op die voorgrond skuif.

Die bedoeling is uiteraard nie dat ʼn mens nie vertroue in jou medemens sal hê nie. As ons soos dikwels gebeur mekaar gedurig met agterdog bejeën vorder ons ook nie op die pad nie. Dit is onafwendbaar dat ons mekaar somtyds sal moet vertrou, selfs ʼn hoë mate vertrou. Daarmee is nie fout te vind nie. Die erns van die verkeerd kom by die woorde “en nie op die Here nie”.

Dit is plaasvervangende vertroue. Dit is misplaas en ʼn mosie van wantroue in God. Dit is om God te ignoreer en feitelik uit jou lewe te skryf.

Daar is soveel nuanseringe wat by ʼn mens opkom. Somtyds is ʼn mens teleurgesteld in God. Jou verwagtinge is teleurgestel en jy voel dat Hy nie regverdig was in ʼn bepaalde saak nie. Jy voel dat jy as kind van die Vader op beter geregtig is.

Jy het regtig geglo, jou verlaat op ʼn belofte van die Here. Jy het ander vertel van die wonderwerk wat die Here gaan doen en Hom reeds begin loof en prys vir die deurbraak wat jy gaan belewe.

Ek toe gebeur dit nie, of nie soos jy dit verwag het nie, en nou is jy kwaad vir God. Jy sê dit nie maar jy voel dit help nie om Hom te vertrou nie. Hoe meer jy vertrou hoe meer word jy teleurgestel.

Ons almal was al daar. Dit is nie waarvan die teks praat nie.

Wat ek hier beskryf het is die geloofsworsteling wat ons almal een of ander tyd beleef. Dit is nie aangenaam nie maar iewers vind jy die genade om jou teleurstelling te oorbrug en vind jy rus by die Here.

In die aangehaalde teks in Jer. 17 is daar ʼn moedwilligheid, ʼn koudheid van hart en ʼn oorlogsverklaring. Dit is ʼn aanhoudende verwerping van God en ʼn uitdagende houding. Jy maak van ander wat God in jou lewe moet wees. Dit is in wese afgodery.

Heelwat om oor na te dink nie waar nie. Ons kuier more verder.

Die vraag dalk by hierdie geleentheid  – “kon jy al verby jou teleurstelling beweeg omdat die Here nie gedoen het soos jy gevra het nie?”