Hoop te midde van…

Ek kry geen rus vir my gemoed nie.

Ek predik hoop maar ervaar somtyds bykans desperate wanhoop.

Twee onlangse berigte, te midde van baie ander, laat my sprakeloos en ontredderd. Soos die digter in Ps.73 voel ek of ek koers verloor.

Die een berig  het betrekking op die haglike omstandighede waarin diere in die Bloemfontein se dieretuin moes oorleef. ( Beeld 7 Maart)  In ʼn desperate poging om sommige te red is die wat oorgebly het  na ʼn plek van sorg en veiligheid geneem. Verhongerde diere wat mishandel en in haglike omstandighede aangehou word terwyl die metro kans sien om die dieretuin steeds oop te hou, skok met afgryse. Die vraag hoe die amptenary van die eens gesogte oord daagliks kon toekyk terwyl dinge so veragter laat my sprakeloos. Ek wil vra wat van hul gewete geword het? Ek wonder hoedat die verantwoordelike persone snags slaap. U behoort u te skaam!

Die tweede berig is die van ʼn bejaarde vrou wat in eweneens haglike en onsimpatieke omstandighede in ʼn staatshospitaal onversorg wegkwyn. Bets Claassen, 76 jaar oud, sterf volgens beriggewing uiteindelik aan ernstige septisemie met bedsere wat in gapende wonde ontaard het. (Rapport 8 Maart)

Die res van die artikel vertel van sub menslike omstandighede met trae verpleegpersoneel, onhigiëniese omstandighede, vuil beddegoed om maar ʼn paar sake te noem. Heel onlangs het ons verneem van babas wat aan onnatuurlike oorsake gesterf het, eweneens in ʼn staatshospitaal. Weereens vra ek wat het van die verantwoordelike persone  se gewete geword?

Ek lees van seuns wat tydens inisiasie sterf terwyl die wat die dodelike praktyk in stand hou met tienduisende rande bank toe stap.

Ek lees van trogvreters wat die land kaalgestroop het en steeds nie genoeg kan kry nie.

Ek lees van boere wat gewetenloos gemartel, verkrag en beroof word, kinders wat deur brutale misdadigers, wat nooit weer daglig moes gesien het vanweë hulle wandade, nou op parool uit, doodgemaak word. Die agterstande in die aanbring van menswaardige toiletgeriewe by skole en vullis wat teen ʼn verbysterende tempo rondom sg. informele behuising ophoop met onskuldige kinders wat daar speel, skree ten hemel.

Ek sukkel om positief te bly. Ek vrees dat ons koers verloor het.

Dit troos egter dat daar steeds mense is wat uitreik na ander soos die vrou van Krugersdorp, Alet van Zyl en gemeenskap,  wat hulle  ontferm het oor ʼn man, Samuel Nonyane,  wie se vrou hom tydens die geboorte van hul tweelingdogtertjies  ontval het. Te midde van persoonlike gesondheid uitdagings vertel Alet dat haar lewe verander het sedert sy Sam ontmoet het. Jy loop simpatieke mense nog oral raak.  

Mense met ʼn gewete.

Dank die Here daarvoor.

Daarvan verstaan die verpleegpersoneel en gesondheidsowerhede van die hospitaal en verantwoordelike personeellede van die dieretuin uiteraard niks nie.

Ps. Luister gerus more, Woensdag tussen 11-12 Radio Kansel na Perspektief met Jannie Pelser.

Sondag 13-14 Toekomsvenster.

Maandae 1530 saam met Johann Els.

Groete

Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster