Hoekom nie?

Ek hoor die mooi storie wat getuig van kinderlike geloof en wysheid. Wanneer ʼn ma haar kleuter in die bed toevou sê hy so ewe “ Mamma, ek is so gelukkig!”. Hoekom, wil sy weet. “Hoekom nie?” kom die antwoord na haar terug. Inderdaad, hoekom nie?
Wat is dit wat kinders het wat grootmense langs die pad verloor het?
Die vermoë om uit die maag te lag en te kraai van lekkerte. 
Die vermoë om aangegryp te wees deur die kleinste dingetjie en in verwondering te staan voor God se handewerk.
Die geloofsvertroue dat Jesus wat in hul hartjies woon, na hulle sal kyk.
Die vermoë om nie te bekommer oor die dag van more nie maar alles aan mamma en pappa oor te laat.
Die genade om na mekaar, veral in hierdie tyd van rassespanning en vooroordeel te kyk, sonder om kleur te sien.
Volwassenes daarenteen het van bekommernis ʼn nasionale sport gemaak. Dis hoe ons lewe.
Ons leef dikwels met agterdog en vooroordeel. Ons motto is “once bitten, twice shy”. Ons laat ons oorweldig deur vrese en kwelling. Ons lê wakker snags en wonder hoe ons die einde van die maand gaan maak. Ons is nie meer seker dat die Here is wie Hy sê Hy is nie en verwyt Hom sonder om dit te erken vir die goed wat verkeerd loop.
Ons het die vermoë om werklik te glo verloor en maak op ons eie planne staat. Ons sukkel om te oorleef. Ons is somtyds negatief, bevooroordeeld, agterdogtig, kwaad en teleurgesteld.
Hoekom gelukkig wees? 
Hoekom nie? 
God is op die troon. Sy beloftes is waar. Tot hiertoe het Hy gesorg al was dit nie op die wyse waarop ek aan Hom voorgeskryf het nie.
Daar is baie mense wat regtig in my as mens belangstel en my belange op die hart dra. My huismense is ʼn gawe van Bo.
Ek het opgestaan vanoggend. Ek kan lees wat hier staan en daaroor nadink. Ek klim nou nou in my motor en gaan werk toe, beide weelderige items in ʼn wêreld waar tienduisende mense vandag nie werk het nie, ook nie die kwalifikasies het dat hulle vir werk kwalifiseer nie, ens. 
Die kraan was nie leeg toe ek wou stort nie en die ketel het gekook toe ek koffie wou maak. Die donker het sy wyk geneem toe ek die lig aanskakel en ek het nie leë maag werk toe gegaan nie.
Ander is op pad universiteit en skool toe. Skole sonder puttoilette en met rekenaarsentrums.
My bedoeling is nie skuldig voel nie. 
Inteendeel. 
Ek vra myself die vraag vanoggend. 
Hoekom nie gelukkig wees nie? 
Fil. 4:6 sê, “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”