ʼn Groot seder het geval

Gerrie Roos is oorlede. Dit klink onwerklik en hartseer. 
Daar is seker min mense wat nie bekend is met Bergland tuine en Gerrie Roos nie.
Ons ken mekaar al jare, nie net as dominee en lidmaat nie maar as vriend, broer en mede gelowige.
Natuurlik is alle mense besonders en laat ieder en elk ʼn leemte wanneer die Here hulle kom haal. Maar met Gerrie is dit anders. Gerrie het ʼn vertrek gevul, nie vanweë sy postuur nie maar sy persoonlikheid. Wat jy gesien het is wat jy gekry het. Daar was geen pretensie nie. Dit was in elk geval nie nodig nie want almal het van Gerrie gehou.
Hy was altyd oral betrokke en beskikbaar. Skuinsagter in die kerk saam met sy geliefde Heleen. Skertsend tussen die mense as hulle koffie drink. Altyd reg met ʼn kwinkslag en storie.
Dis eers as  hy ʼn ent weg is dat jy agterkom dis sommer uit die duim gesuig, maar jou aandag was geboei.
Die seder is ʼn energieke en imposante boom. Dit is gebruik vir die bouwerk aan die tempel. Dit was gesog en bekend. Dit was die toonbeeld van integriteit en waarheid. Dit is ʼn gepaste metafoor vir hierdie man van geloof. Hy was lief vir sy kerk en lojaal teenoor sy gemeente. Sy linkerhand het nie geweet wat die regterhand doen nie. Sy hart was groter as die lewe self.
Daar staan verskeie monumente en Gerrie se naam sou daarop kon pryk. Sy naam is nie daar nie want hy het dit vir die Koning gedoen.
Gerrie, soos ons almal, was nie volmaak nie. Sy voete was egter stewig op die pad van dissipelskap. Ek dink die Here het Gerrie baie lief gehad juis omdat hy so eerlik geleef het.
Ons sal Gerrie baie mis. Die gemeente sal nie dieselfde wees nie. Ons sal aangaan en voortgaan soos dit moet wees, maar sonder Gerrie sal dit nooit weer dieselfde kan wees nie.
Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon.
Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God.
Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wee