Good, bad en ugly
Iewers langs die pad gedurende die gebedsreis waaroor ek die
afgelope tyd berig het gebruik iemand, met verwysing na ons land en sy geskiedenis,
na die bekende “good, bad en ugly”.
Die drie-deling help ʼn mens nogal om na te dink oor waar jy
vandaan kom en waarheen jy op pad mag wees.
In elke situasie is daar seker iets daarvan teenwoordig.
Hoe dankbaar is ʼn mens nie dat alles nie net sleg is nie,
inteendeel.  Daar is soveel  mooi in baie verhale. Suid Afrika se verhaal
het baie mooi momente. Dit word elke dag gedemonstreer waar mense mekaar
ondersteun en bemoedig. Ons sien dit weer duidelik met betrekking tot die
droogte in die Kaap hoedat tienduisende liters water daarheen vervoer word.
Droogtehulp, rampbestuur, so veel voorbeelde van die deernis wat Suid
Afrikaners in hulle omdra. Op plaaslike vlak word soveel betekenisvolle
projekte onderneem. Dis goeie nuus stories.
Dan weer is daar die goed wat sommer net sleg is, goed waaroor
ʼn mens verleë is. Dis nie die einde van die wêreld nie, het mense nie
noodwendig skade berokken nie maar getuig nie van sensitiwiteit en stylvolle
optrede nie. Die saak is nie behoorlik deurdink nie en dit kon mense aanstoot
gee. Daarvoor kan ʼn mens rustig verskoning vra en op jou toekomstige optrede
let.
Daar is ook die dinge wat ander grondigheid negatief geraak
het. Hulle het op die een of ander manier skade gely, is van geleenthede
ontneem en benadeel. Dis die goed waarvoor ʼn mens opreg vergiffenis vra.
Dit behels egter meer as ʼn jammer in die verbygaan maar
restitusie waar dit van toepassing en moontlik  is. Oorweging word geskenk aan hoe die skade
goed gemaak of ten minste gedeeltelik aangespreek kan word. Om dit te verstaan
en te bereken sal ʼn mens na die ander party se storie moet luister, indringend,
eerlik, empatiese luister.
Die bykans outomatiese selfverdediging en selfregverdiging
eenkant sodat die Heilige Gees kan oortuig van wat op Sy hart is.
Die pad  waarlangs ons
in Suid Afrika gekom  het bevat hierdie
inhoude. Ek het dit intens en emosioneel selfs beleef die afgelope paar dae.
Ons nou vergete slawe geskiedenis, Distrik 6 en Robben
eiland. Manenberg, Gugulethu en die Kasteel.
Dis daar, onuitwisbaar daar.
Ons moet nie die spreekwoordelike kamp opslaan en vashaak
daarby  nie.
Ons moet egter lank genoeg stilhou dat ons by dié
plek kom waar ons besluit, nooit weer so nie.