God se Woord in menstaal.

Simbole van GENADE

Ps.119:16
Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.

Ek is as leraar (oud) seker veronderstel om verskillende vertalings van die Bybel in my boeke versameling te hê. Dit is ook so. Ek besit verskeie Bybels in verskillend tale en deur verskillende uitgewers met verskillende oogmerke.

Sommige is direkte vertalings uit die oorspronklike tale, ander is vryer vertalings wat lees en begrip vergemaklik.
Ander is parafrases terwyl ander verskillende vertalings met mekaar vergelyk. Nog ander is groot druk terwyl ander se skrif nou effens klein begin raak.
Sommige het die tradisionele swart omhulsel terwyl ander veelkleurig en aantreklik is.
Ek het Bybels wat vanuit ʼn leierskapsperspektief, lof- en aanbiddingsvertrekpunt, spesiaal vir manne asook kinders en tieners geskryf is.
Ek het baie Bybels in my boeke versameling en koester elkeen as ʼn kleinood.
My eie persoonlike dag tot dag Bybel is vol strepe, aantekeninge, herinneringe, gebede, momente, datums, ook uitknipsels, foto’s, boekmerke, ens. Hier en daar is bladsye met kleefband vasgeplak omdat dit al begin loskom.

Die Bybel het ʼn slag al verlore geraak maar ek het dit op ʼn wonderbaarlike wyse teruggekry. Dit het by die kerkgebou van my motor se dak waar ek dit neergesit het toe ek die deur wou oopsluit en te veel goed probeer vashou het afgeval toe ek wegry. Iemand het “toevallig” besluit om ʼn ander pad huis toe te ry. Die persoon is nie in ons gemeente nie maar het letterlik van ʼn ander deel van die dorp gekom. Dit is toe dat hy die swart omslag in die pad sien lê en besluit om dit op te tel. Hy het my besonderhede daarin gekry en geskakel sodat ek dit kon afhaal. Ek is so dankbaar. Die Bybel is die mees persoonlike item wat ek in my besit het. Dit kom baie, baie jare saam met my. In die kantsakkie is foto’s van my geliefdes. Wanneer ek op ʼn ver plek moes gaan bedien het ek myself getroos deur na die foto’s te kyk as die verlange te groot raak.

Bybels en nogmaals Bybels.
God se Woord in mense taal.
Openbaringskennis, wysheid, ʼn rigsnoer vir die pad.
So sê die Here.
So gesels die Here, met my, elke keer as ek die Bybel oopmaak.
Baie verse is in my hart gebêre. Toe ons kinders was op Sondagskool moes ons die versies woord vir woord leer. Dit het my al in die donkerste tye gedra.
Genade, onbeskryflik groot.
Bybels, Handboek vir die lewe.
Simbool van guns, goedheid, liefde, genade, omgee, sorg, leiding, God met ons, Immanuel.

HEBREËRS 4:12
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Daar is ook sulke simbole van genade in jou omgewing.
Vertel daarvan.
jannie@toekomsvenster.co.za

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster