God se ontstuimige liefde

Miga 2:12-13

Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob, Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het, Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in ‘n kraal, soos ‘n groot kudde in die weiveld, die wêreld sal dreun van mense. Een wat uitbreek, sal hulle lei, hulle sal uitbreek en deur die poort gaan, hulle sal daar uitgaan, hulle Koning sal voor hulle uitgaan, die Here sal voor hulle wees.

Die afgelope dae het ons ietwat negatief berig oor die werklikheid van ʼn baie stukkende en weerspanninge wereld. Ons moes ontdek dat die volk van die Here nie altyd onskuldig is nie.

In Miga se tyd is die sonde en opstand van die volk op die spits gedryf. Mens kan bykans nie glo hoe onverskillig kinders van die Here kan raak nie.

Tog is daar ʼn onverstaanbare, verrassende en bevrydende waarheid –  God is ook groter as ons opstand en sonde.

Die gevolge van die verkeerde, volhardende en halstarrige keuses wat ons maak, haal ons dikwels in. Ons betaal duur daarvoor maar God soek ons weer en weer en weer op.

Verbondsmatig het Hy Homself daaraan verbind om ons nie te los nie.

God maak ʼn nuwe begin met mense wat bereid is om hul oortredinge te erken en te bely en te laat staan.

Sy uitnodiging staan vas.

“Al was jou sonde soos skarlaken dit sal wit word soos wol, rooi soos purper dit sal wit word soops sneeu”.

Onbegryplik maar waar. Goddelike genade. Wie kan dit verstaan of verduidelik.

Hy het niks van ons nodig nie maar gee alles terwille van ons.

Die kruis is daarvan die toonbeeld.

God se liefde dring Hom om sy kinders in hul verstikkende omstandighede op te soek. Sonder verwyt nooi Hy terug, roep Hy sodat wie ook al hoor kan weet dat sy of haar konteks nie die laaste woord spreek nie.

“O blye dag,

waarop my siel,

deur Jesus bloed,

gereining is”