God se kleur is groen

As ek soggens my kleinkind skool toe neem sing ons graag “ “Ek ry met my mooi motorkar en saam…as ek by die rooilig kom dan weet ek ek moet stop..”
Ek is seker meeste van julle is daarmee bekend.
Natuurlik verdraai ek die merkers in die liedjie met opset om sy reaksie te hoor. Oupa, die ewige terggees.
“Stop sê die geel lig, ry sê die rooi lig, oppas sê die groen lig, oppas wat jy doen..pampoen”.
Het al ʼn lekker gespot geword.
Die liedjie het my aan God se “kleur” laat dink.
Die tipiese robotkleure dra elk en belangrike betekenis. Omdat ons gedissiplineerde mense is en wil wees gee ons gehoor aan die konvensie wat deur die ligte voorgedra word.
Rooi –  Stop
Geel –  Oppas, versigtig.
Groen – Ry.
Ek wonder hoeveel mense beleef God as geel en rooi. Waarskuwend en bestraffend. Altyd besig om te keer, weg en af te keer, afkerig te wees.
God hou op die wyse nie veel van mense nie. Hulle pla Hom. Hy stel kontoere en is beslis dat mense daaraan gehoor moet gee.
Hy verlustig Hom daarin om pretbederwer nr. Een te wees.
Uiteraard is daar ʼn geel en rooi aspek aan die Bybelse boodskap. Ek praat nie daarvan nie. Ek praat van mense se belewenis dat God op ʼn afstand bykans traak my nie agtig toekyk en meermale geïrriteerd voorkom. Die Man met die stok, sweep, kwaai kyk. Op die manier is God se kleur rooi en op sy beste geel.
Nee, duisend maal nee.
God se kleur is groen, soos die weivelde, soos Ps. 23.
Groen soos gaan voluit, voet in die hoek, laat wiel.
Groen soos gesond wees en groei, soos die bome van Ps.1
Groen soos die groen en goud, koninklik en oorwinnend.
Groen soos die Libanon, welig en dig.
Groen soos kom verby, geniet die reis, Ek ry saam.
Groen soos Ek is mal oor jou. Leef voluit.
As jy dit verstaan sal jy geel en rooi beter verstaan.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}

Mag jy ʼn groen week hê.