Gewone mense en ʼn ongewone God

Jer. 17

5: Die Here sê:

“Daar rus ’n vloek op dié wat hulle vertroue stel in gewone mense, en nie op die Here vertrou nie.

“Gewone” mense staan daar. Die teks wil die absolute futiliteit van vertroue wat by God hoort op mense te stel. “Gewone” mense.

Ek weet net van “gewone” mense. Daar is nie kategorieë van mense nie. Ons is almal doodgewoon, vlees en bloed, tydelik, kortstondig, beperk, meermale gebroke, soekend, broos.

Ja, toegegee, somtyds vergeet ons van hierdie werklikheid. ʼn Paar suksesse word met ʼn gevoel van onaantasbaarheid opgevolg. Ons klop onsself op die skouer en voel bemagtig deur die komplimente van mense. Hoe meer hulle jou op die skouer klop hoe meer groei die gevoel van meerderwaardigheid, trots, vernaam en uitsonderlik wees.

Jy begin te dink dat ʼn ander stel reëls vir jou geld, dat God aansluiting vind by jou en dankbaar is dat Hy met jou kan assosieer. Jy praat soos ʼn oorversekerde mens, jou stemtoon is oortuigend en manipulerend. Dit is die spreekwoordelike “weet jy nie wie ek is nie? Weet jy met wie jy te doen het? Jy sukkel nou met die versekerde mens. Ek is nie jou speelmaat nie. Jy het nou die verkeerde perd opgesaal”.

Ai, die waansin van eiegeregtigheid nie waar nie, intussen is jy en ek, ja ons almal “gewone” mense. Weglaatbaar klein en onbetroubaar. Ons potensiaal om teleurgestel onvergelykbaar groot en ons geloofwaardigheid en integriteit dikwels onderhandelbaar aan die hoogste bieder.

Dalk is dit net weer nodig dat ons bewus word van ons eie nietigheid. Selfvoldane en selfgemaakte mense vra nie na God nie. Dit is mense met die Matt. 6 bergpredikasie wat die Here opsoek.

Die gebrokenes, sagmoediges, nederiges, soekende.

Die vredemakers, die versoeningsagente, die self opofferende, die Jesus gesindheid mense.

Dit is geen wonder dat die Here Homself so sterk uitspreek teen misplaaste vertroue. Die kans dat jy gaan seerkry wanneer jy plaasvervangend jou vertroue in mense en menslike strukture plaas, is groot.

Onthou egter, ons praat nie van vertroue soos in die algemene gang van sake nie. Daarsonder sou die hele wêreld sinies en agterdogtig gewees het. Dit is onafwendbaar dat ons mekaar sal vertrou veral die wat naby aan jou is.

Dit is wonderlik om met betroubare mense sake te doen. Om jou hart met iemand te deel en te weet dit gaan nie verder nie. Om op iemand se knoppie te druk en te weet hul oggend en aandpraatjies is dieselfde.

Dit is die tipe mens wat ons wil wees, dan nie?

Miskien  wil ons afskeid neem van opgesmuk en selfvoldaan te wees sonder om papbroekerigheid en ruggraatloosheid te idealiseer.

“Doodgewone” mense voor God en voor ander beelddraers.