Geweld en saakbeskadiging in Krugersdorp

Soos altyd ʼn enorme voorreg om ʼn bietjie na te dink oor gebeure ter plaatse en hoe ʼn Christelike perspektief daar sal uitsien.
In die afgelope paar dae is my tuisdorp Krugersdorp deur geweld en saakbeskadiging gekenmerk. Die aanvanklike ongelukkigheid het met die Nigeriërs te doen gehad wat klaarblyklik kinders betrokke kry by verdowingsmiddels en prostitusie fasiliteer. Bewerings van mensehandel word ook gemaak.
Herinner my aan die ontstellende beeldmateriaal van eietydse slawerny en menshandel in onder andere Libië en ander lande van die wêreld. Ek lees ook iewers hoe onder andere vroue “recycle” word. Hulle word van kleintyd af misbruik en die dag wanneer hulle nie meer waarde het nie word hul organe geoes en op dIe swart mark verkoop. Partykeer wonder ek of God nie permanent wegkyk nie. Wie sou Hom kon verkwalik? (Natuurlik doen Hy dit nie maar kyk na die wêreld deur die oë van sy kinders)
Terug by Krugersdorp.
Dit is inderdaad so dat samesprekinge met die owerheid oor die gemeenskap se bekommernis in dié verband nie van gister kom nie. Bewerings dat die polisie en die kriminele kop en een mis is loop ook al ʼn lang pad. Dieselfde ongelukkigheid het skaars ʼn week of wat gelede in Rustenburg gebroei en verskeie besighede wat na bewering aan Nigeriërs behoort het in die slag gebly.
Die woede en frustrasie hier by ons het oorgekook toe ʼn jongmeisie teen haar sin deur Nigeriërs aangehou is. Die minister van Polisie maak die regte geluide met betrekking tot die uitroei van korrupte polisielede maar min het nog daarvan tereg gekom. Gevolglik begin gemeenskappe die reg in eie hande neem. Enersyds is dit prysenswaardig dat ʼn klomp mense standpunt inneem teen misdadigers oor die veiligheid van hul kinders. Dit gaan immers oor ons kinders ook.
Die probleem is egter dat ʼn skare opportuniste en doodgewone skelms en leeglêers in die protesoptrede ʼn geleentheid sien om amok te maak. Die polisiekantoor in Munsieville het in die slag gebly en besighede is geplunder. Talle mense is na bewering beseer en die nalatenskap van die afgelope week se gebeure laat eerder ʼn slegte smaak in die mond as empatie.
Die EFF en ander ondersteuners se optrede by die H en M winkels is eweneens ʼn saak wat enersyds simpatie en begrip wek maar ʼn wrang smaak agterlaat. Tonele van klere uitstallings wat omgeskop word en vragte klere wat geroof word laat ʼn mens se aanvanklike simpatie soos mis voor die son verdwyn. Wat sou gebeur as ons almal besluit om geskille op dIe manier op te los? More oggend gesels ek in die program Brandpunt op Radio Kansel (0630) oor die gebeure en hoe ʼn mens daaroor moet oordeel.
In “wit” geledere sou die uitrusting en die gewraakte woorde nie eers ʼn wimper laat lig het nie. Bobbejaantjie is ʼn troetelnaampie vir ʼn mensie wie se oulikheid hom vooruitloop.
Ag wie het nie met die storie grootgeword dat ons ouers ons as bobbejaantjies gevang en ons stertjies afgekap het nie. Nou ja, lyk my vandag se kinders word baie slimmer as ons gebore. Die ooievaar moes besigheid toemaak omdat babas nie meer so afgelewer word nie. Glo dit as jy wil maar babas word in mammas se magies groot en word op die regte tyd gebore. Totsiens naïwiteit.
Terug by die bobbejaantjie storie. Dit is te ene male so dat sommige mense hul superieur ag in vergelyking met ander mense. Opmerkings in dié verband is subtiel maar die saad van meerderwaardigheid is net onder die oppervlak. Voorbeeld. “Daardie mense is die sout van die aarde mense”. Wat sê ons eintlik?
Binne swart geledere is die verwysing na bobbejaan nie iets wat waardeer word nie. Ons verstaan nie die leef en ervaringswêreld van swart mense nie. Om van kleintyd te hoor dat jy dom en oningelig is, dat niks goed van jou sal kom nie, dat jou mense geen betekenisvolle uitvindsel kon maak nie, dat die res van die kontinent voorbeeld is van wat gebeur as wit mense onttrek, ens. kan nie anders as om ʼn gekweste mens wat worstel met minderwaardigheid daar te stel nie.
Daar was hoëvlak samesprekinge tussen ʼn afvaardiging van die NGK en die EFF. Praat bring inderdaad begrip en waardering vir mekaar maar praat is ook net woorde as mense van die gesprek af opstaan en voortgaan om destruktief op te tree in die samelewing. Dit hang natuurlik daarmee saam dat beide die DA en EFF, twee vername rolspelers in die politieke proses, skielik verleë is omdat ons geagte staatspresident iets van die verlede is. Soos Tim du Plessis sê..dis soos iemand wat op ʼn telefoon praat waarvan die anderkant “uitgeprop” is. Bye bye mr. African pie.
Intussen gaan die terrorisering van Afrikaans en Afrikaanssprekendes voort. Daar is ʼn paar eerlike gesprekke wat gevoer moet word. Jy kan mense nie onbeperk verkeerd opvryf en verwag dat hulle hul beste gaan gee nie.
Onderhandelingspolitiek bestaan uit gee en neem. Die struktuur is tans effe op sy kop gedraai. Dit wil voorkom as asof dit ʼn net gee struktuur geword het.
Ons het wysheid nodig meer as ooit tevore. Wat ek vir myself en vir my kinders gun moet ook vir ander mense geld. Dis die spel van redelikheid.
Ekstremisme gaan ons nerens kry nie. Volgens die koerant is die Overvaal hoërskool toe vandag uit vrees vir protesoptrede wat beplan word. Wat het die kinders hiermee te doen?
As mense nie werk het om te doen nie moet hulle nie ander mense uit die werk hou nie. Benewens die feit dat ander skole reeds die kinders absorbeer het wou volgens die Rapport enkele kinders na die Afrikaanse skool.
Iewers skryf iemand dat Afrikaans ʼn kombuistaal is. My verstaan is dat ʼn taal wat sy sout werd is (en Afrikaans is dit inderdaad) homself sal handhaaf te midde van uitdagings. Die taal as sodanig is ʼn dooie iets, dis die mense wat lewe gee aan die taal. As Afrikaanssprekendes hulself so oriënteer in die samelewing dat ander in hulle hoop, ʼn toekoms en moontlikhede raaksien sal die taal nie uitsterf nie.
Dis waarmee Afrikaans geassosieer word wat die probleem is, nie die taal nie. Ons as Afrikaanssprekendes sal meer as ooit van te vore stylvolle deelnemers aan die openbare proses moet wees en word. Kru opmerkings in Afrikaans op sosiale media wanneer ons nie saamstem oor sake nie gaan die taal nie ten goede kom nie. Afrikaans op die markplein, dis waar sy voortbestaan verseker word.
Dit bring my nogal by mnr Trump se Afrika ens. opmerking, bykans te kru om in goeie geselskap te herhaal. Iewers skryf ʼn joernalis dat ook Suid Afrika vir baie van sy inwoners dalk nie die aangenaamste plek op aarde is nie.
Verbysterende werkloosheid en armoede om maar twee sake te noem, gebrekkige dienslewering en gesondheidsorg, ontoereikende onderwys met spesifieke verwysing na fasiliteite, leierskap wat tot onlangs toe nie ʼn duit vir die land en sy mense omgegee het nie kru maar dalk nie ver van miljoene mense se realiteit verwyder nie.
Dan weer het daar ʼn lig opgekom oor die volk wat in duisternis wandel, verwysende na mnr Ramaphosa. Om sy span bymekaar te hou moet ʼn uitdagende oefening wees. Ek verheug my om te hoor hoedat mense uiteindelik moet begin rekenskap gee vir die plundering van hierdie land se bronne. Ek moet myself bedwing om dié geweldenaars nie ʼn lang vakansie in afsondering toe te wens nie maar die oordeel kom ons nie toe nie.
Feit van die saal is die Here laat nie met Hom spot en speel nie.
Daar kom ʼn dag van afrekening.
Ons moet bid vir die Suid Afrikaanse afvaardiging se optrede in Davos, Switserland.
Mag die Here sy seën gee.
Die droogte in die Kaap het ons op ons knieë. Die aangrypende foto in vandag se beeld van leerlinge aan die Bellville Laerskool (Excelsior Laerskool) almal op hul knieë uit die lug soos ʼn reuse waterdruppel maak ʼn mens bewoë.
Mag ek vandag my gebed om reën daarby voeg.

Here, ons aanbid U.Ons ken U as die God van genade, liefde, barmhartigheid en omgee.Ons ken U as die almagtige, ewige en getroue Vader.U het ons self vertel van U Vader se goeie bedoelinge met mense.Iewers vertel U van aardse vaders se omgee vir hul kinders en voeg daarby …sou die Hemelse Vader nie vir julle sy Gees gee as julle daarom bid nie. Here, ons kom vandag na U toe en ons vraSien ons raak in ons uur van nood.Dit smeek en vra ons in die Naam van Jesus die HereAmen

Lukas 11
“Julle vaders – as julle kinders vir ’n vis vra, gee julle dan vir hulle ’n slang? 12Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie! 13As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”
Groete
Jannie Pelser

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}