Geroep om ʼn seën te wees

Geroep om ʼn seën te wees

Gen. 12:1-3

Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.

2             Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.

3             Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

God se bedoeling was van die begin af baie duidelik. Die wêreld moet van Hom hoor en tot geloof kom. In die teksvers hier bo praat Hy met Abraham, ook bekend as die vader van die gelowiges. Hy is ons gemeenskaplike geestelike voorouer. Sy lewe, roeping, gehoorsaamheid en voorbeeld spreek ons na honderde jare steeds aan.

Wanneer ʼn mens aan Abraham dink kom die episode met sy seun  Isak dadelik in die gedagtes op. Sy vertroue was egter van so ʼn aard dat hy in die woorde van die Hebreër skrywer nie getwyfel het dat God in staat was om Isak weliswaar uit die dood aan hom terug te gee nie.

Dit is eintlik wat gebeur het. In Abraham se gedagte was die offer reeds voltrek. Hy was vas beslote om God in alles, ook in hierdie pynlike saak te vertrou. U onthou saam met my Isak se vraag, “waar is die lam”? Abraham se antwoord, “God sal die lam voorsien” en Hy het dit inderdaad gedoen.

Daardie Lam, die Seun van die Allerhoogste het die wêreld so liefgehad dat Hy Homself aan sy Vader aangebied het as offer vir die wêreld se oortredinge. Anders as met Isak moet Jesus egter die kruisdood verduur, bly Hy gehoorsaam tot die laaste druppel bloed.

Die sin van kindskap is om ander van God te vertel. Niemand is te sleg, verwerplik of sondig vir Hom nie. Trouens, ons moet nie vergeet waar die Here elkeen van ons kom haal het nie. Daarmee saam het God die hele wye wêreld van die begin af in die oog gehad. Israel se verkiesing was met die oog op.

Terwille van die wêreld en nie dat hulle aanstellerig en eksklusief sou raak nie. Die verkiesing van Israel moes hulle tot nederigheid oproep eerder as hovaardigheid en trots. Ongelukkig is dit hoe sy volk meermale opgetree het.

Ons moet ook voortdurend herinner word aan die waarheid dat God die hele wye wêreld in gedagte het. Hy het nie witbroodjies nie. Geen enkele persoon, gemeenskap, samelewingsverband of volk kan op spesiale status, aandag, belangstelling of guns aanspraak maak nie.

Die lewe van ʼn ongeskoolde is nie minder belangrik as die van ʼn gegradueerde nie.

Die lewe van ʼn skatryk sakeman weeg nie meer as die van die koeldrank verkoper op die hoek van die straat nie.

Die dominee is nie belangriker as die lidmate nie en die dosent nie meer as die student nie.

Ons staan op gelyke grond, ontdaan van ons aardse trots.

By God is daar net twee kategorieë mense, geredde en nog nie geredde, kinders van Hom en nog nie kinders van Hom nie.

Dit is tog duidelik wat die sin van ons bestaan op aarde onder andere is en waar ons energie gekanaliseer moet word.