Gee my passie

Huweliksweek
Saterdag
Gee my spasie


Dis twee individue wat met mekaar trou. Teen die tyd dat die knoop deurgehaak word het baie water in die see geloop. Elkeen se persoonlikheid is tot ń groot mate gevestig. Indrukke en persepsies is gestoor, herinneringe bymekaar gemaak. Elkeen het sy en haar idee van hoe die wêreld behoort te funksioneer. Die Here het in sy genade aan elkeen kapasiteit gegee waarmee hy en sy hierdie wêreld moet bemeester. 


Nog belangriker het elkeen sy en haar unieke ervaring van God. Nou trou die twee vreemdelinge en begin ń  nuwe toekoms saam. Dit is tog onrealisties om te verwag dat een of albei hul eie unieke manier van menswees moet prysgee terwille van ń ongedefinieërde nuwe persoonlikheid. 


Inteendeel, die huwelik is die ruimte waar die mooi in mekaar, die uitsonderlike en spesiale versterk en uitgebou word. Daar is ruimte, tyd en geld dat elkeen alles kan wees wat God in sy wysheid bepaal het daardie persoon kan wees. Inderdaad slyp yster yster en met verdrag gee ons mekaar toestemming om sagkuns te beitel aan die rowwe plekke in ons mondering. In die proses help kritiek, veroordeling en beterwetigheid niks nie. 


Die huweliksmaats moet ń intense waardering hê vir die ander se voorlopigheid en broosheid. Dikwels was daar in die eerste jare van jou menswees insidente wat jou verstaan van jouself erg beskadig het. Die plekke en insidente moet dikwels met professionele hulp veken word ten einde heelheid te ervaar. Dit geld van albei die huweliksmaats. Niemand is volmaak en ongeskonde in hierdie lewe nie. 


Ruimte vir mekaar se individualiteit, uniekheid  en skoonheid as mens. Opgewonde oor die   potensiaal wat God in elkeen gestoor het. Ontdek jou maat vandag by vernuwing. Verwonder  jou aan hierdie gawe van Bo. 


Gebed
Here,  dankie vir hierdie spesiale persoon in my lewe. Ek is dankbaar dat ek ń bydrae mag lewer dat hy/ sy tot volle potensiaal ontwikkel. Help my om hom/ haar aan te moedig. Weerhou my van kritiek en beterwetigheid. Ek wil sien wat U sien. Ek wil hoor wat U hoor. Seën  my maat vandag op ń baie spesiale manier. 
Amen