Fluitjieblasers

Fluitjieblasers

Een van die interessante nuwe woorde wat in die onlangse verlede op die horison verskyn het is die woord fluitjieblaser. Dit is iemand wat bewus is van ongerymdhede wat weer verband hou met korrupsie en bedrog en die saak op die lappe bring en openbaar maak. Dié mense word uiteraard nie waardeer deur die persone wat geïmpliseer word nie. Dit kan selfs lewensgevaarlik en bedreigend wees.
Ek dink ons kan die Heilige Gees as God se Fluitjieblaser beskryf. Hy maak ons bewus van dit wat verkeerd is in ons eie lewens maar ook in die samelewing sodat ons daarmee kan handel soos die Bybel dit van ons verwag.
Wat ons eie lewens betref staan ons onder opdrag om al hoe meer soos Jesus te word. Alles wat nie Jesus is nie moet aangespreek word. Die bekende metafoor van die rots en die perd het betrekking.
Hoe kry ʼn mens ʼn perd uit ʼn stuk graniet gekap word gevra? Jy kap alles weg wat nie perd is nie. Hoe nader ʼn mens aan die fyner dimensies van die perd kom hoe fyner, delikater en puntenerig word die beeldhouer.
Dit is ook so in die lewe van die Here se kinders. Iewers begin die Heilige Gees aandag gee aan die klein jakkalsies, die oënskynlike onbenullige goedjies maar wat nie Jesus verteenwoordig nie. Dit kan ongemaklik en seer wees.
Wat die samelewing betref word ons opgeroep om onder leiding van God se Fluitjieblaser die goed wat nie Koninkryk verteenwoordig nie deur ons lewe, getuienis, voorbeeld en protes aan te spreek.
Verlede Maandag kan daarvan ʼn voorbeeld wees.
Gebed
Heilige Gees kom blaas die fluitjie tov. die dinge wat in my lewe nie reg is nie.
In Jesus se Naam en tot verheerliking van die Vader
Amen

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}