Ek kan nie bykom nie

Die winter bekruip ons,  daardie deel van die jaar waar ʼn mens se vel bykans oornag droog word. Room smeer is die enigste antwoord en selfs dit bring geringe verligting.
Daar ʼn plekkie op my rug wat ek met die beste wil op aarde nie kan bykom nie. Dit is strek na hierdie kant en strek na daardie kant maar die eilandjie bly droog. Dis hier waar ek vroutjie nader roep en haar vertrou met dit wat ek nie kan bykom nie. 
Daar is in elkeen van ons lewens sulke plekkies. Dis hoe ons gemaak is. Ons is op mekaar aangewese. Dalk het God ons so gemaak sodat ons sal besef dat ons mekaar nodig het.
In ʼn tyd van individualisme en eie sinnigheid, waar waarheid deur my gedefinieer word en ek die mure rondom myself al hoër bou ten einde myself te beveilig, is dit dalk goed om hieraan herinner te word.
Trouens, dit het reeds by die paradys gebeur, nie waar nie? Dit was nie lank nie en Adam het agtergekom dat hy nie oral “kan bykom” nie. Hy het hulp nodig gehad en derhalwe het God vir Eva gemaak sodat hulle gesamentlik verantwoordelikheid vir mekaar kan aanvaar. 
As ons mekaar dan nodig het om volledig mens te wees, is die vraag waarom vyandskap en woede  so eie aan Suid Afrika is?
Vooroordeel  en vrees, die goed waarmee ons elke dag worstel..
Mag die Here vir ons goeie, beter verhoudings gee in hierdie mooi land. Mag ons leer om mekaar te vertrou en te dien.
Mag ons huwelike gesond en voorbeeldig wees. 
Mag ons gesinne veilige plekke wees. 
Mag ons verhouding met God verinnig. 
Ook daar is daar ʼn plekkie wat net Hy kan bykom. 
My hart.