Eers die koninkryk

Eers die koninkryk

MATTEUS 6:33
Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Is jy ook haastig, altyd haastig en gejaagd?
Tyd vir niks nie behalwe om haastig te wees?
Die volgende vergadering, afspraak, kuier, verantwoordelikheid, oefening is geskeduleer en jy is op pad daarheen. Ekstra tyd vir die besige snelweg inruim, padversperrings en werke in ag neem, gebeurlikhede waarvan jy nie vooraf kan weet nie beroof jou van nog tyd. Haastiger as haastig.
“Fokus, wat gaan ek sê, hoe gaan ek die saak benader, net die Engels op my tong kry!
“Moet onthou dis ons huweliksherdenking, al weer vergeet van die buitelig wat vervang moet word, wonder stellig of die alarm in ons huis nog werk. Moet dit laat toets.
“Ek moenie vergeet nie. Gou ʼn voice note opneem terwyl die verkeer opgedam staan, waar is ʼn pen – net gou ʼn nota maak voordat ek weer vergeet.
“Haastig, die tyd is min. Moeg, baie moeg. Fokus. Miskien kan ek Saterdag laat slaap. Nee wag, daar is ʼn rugby wedstryd op ʼn ver plek en ek moet saam met my seun gaan. Wil hom nie teleurstel nie. Toemaar Sondag is darem rustiger. Sal kerk afgee hierdie week. Verlede week ook maar die Here sal verstaan. Ek is net een mens.
“Haastig en te min tyd”.
Ek reken dis hoe die meeste van ons lewens verloop.
Die enigste persoon wat kan besluit tot hier toe en nie verder nie is jyself.
Vat tyd. Maak tyd. Jy skuld dit aan jouself. God wil met jou praat.
Wanneer laas het jy aan sy voete kom sit?

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}
span.s2 {font: 14.7px ‘Century Gothic’; font-kerning: none}

Jy sal verbaas wees hoeveel tyd jy op hande mag hê na tyd saam met Hom.