Eendag sal ons hierdie woorde hoor

Matt 25:23-26

23           Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

24           “Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u ‘n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie.

25           Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’

26           Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is ‘n slegte en ‘n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie.

Hierdie gelykenis, soos so baie ander is baie bekend. Die waarheid daarvan mag egter nie by ons verbygaan nie. Daar is ʼn paar belangrike sake om op te let.

Die eerste is dat almal gawes of talente, alhoewel dit hier na geld, muntstukke verwys van die Here ontvang. Daar is niemand wat kan sê dat hy of sy oorgeslaan is wat dit betref nie. Waarom die een tien, die ander vyf en die ander een ontvang is nie duidelik nie.

Dalk het die eienaar na vermoë uitgedeel. Dit beteken dat sy verwagting van elk nie buite verhouding sou wees nie. Hy sou die een wat net een muntstuk ontvang het net soveel aangeprys het as hy daarmee gewoeker het as in die geval van die ander twee diensknegte.

Die feit dat een tien muntstukke ontvang het  is dalk daarvan ʼn aanduiding dat die eienaar die slaaf  ken as iemand wat nie lyf wegsteek en met verskonings boer nie.

Die wyse waarop die eienaar die diensknegte bemoedig, is opvallend. Die prys of loon bestaan nie daarin om meer vir jouself in te palm nie maar om in die eerste plek met meer verantwoordelikheid vertrou te word. Die vreugde lê in die vertroue wat die eienaar in sy diensknegte het.

Daar is ʼn ander belangrike saak wat uitstaan. Die slaaf wat nie met sy gawe gewoeker het nie het geen verskoning nie. Sy woorde trouens verraai sy gebrek aan verskoning aanbied. Hy het nl. geweet dat die eienaar gaan terugkom, dat die eienaar rekenskap gaan vereis en dat die eienaar ʼn opbrengs gaan verwag. Sy opmerking teenoor die eienaar bevestig dit duidelik. “Ek het geweet”, sê hy.

Sy traagheid word aan luiheid toegeskryf, nie respek hê vir die eienaar of vir die gawe wat aan hom toevertrou is nie. Ook die gawe vra vir respek en waardering. Om die gawe nie te ontwikkel nie, is om die gawe te minag.

Daar kan geen groter oomblik wees as om die dag te beleef waarin die Here ons sal komplimenteer met ons getrouheid nie, al was selfs ons getrouheid ʼn gawe van Bo.

Mag ons daardie merkwaardige woorde eendag hoor, “mooi so goeie en getroue dienskneg en diensmaagd.

Oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel, kom in, in die heerlikheid van jou Heer”.