Een week van introspeksie.

Suid Afrika slaag daarin om ʼn mens van ongebreidelde optimisme na waansinnige neerslagtigheid te skoppelmaai. Die euforie van die een gebeurtenis word deur die desperaatheid van ʼn ander nek omgedraai.

Selfsug, eiebelang, ongedissiplineerdheid en ʼn algemene onverskilligheid is aan die orde van die dag. Ander se goed word geteiken en in waansinnige strooptogte gebuit. Vreemdelinge se winkels word tot as gereduseer. Kinders word ontvoer en vroue word kru verkrag en vermoor. Snelweë word deur opstandiges geannekseer en vragmotors aan die brand gesteek. Mense oor wie se lewens daar ernstige vrae hang word as volkshelde besing. Die reg word in eie hande geneem terwyl die wat veronderstel is om die orde te handhaaf oënskynlik in gebreke bly. Leiers maak emosielose opmerkings oor dinge wat verkeerd loop en keer terug na die luuksheid van hul kantore. Die straathoeke word versamelpunte van noodlydendes en die geestelike onderbou van ons mense erodeer daagliks. Vergaderinge is besig met beuselagtighede terwyl Rome brand.

Inbelprogramme op radio stasies getuig van die verslaentheid wat oor ons mense toegesak het. Armoede is oral, vreemdelinge ook, trouens al die sosio maatskaplike uitdagings waarin ons verkeer, maar nêrens kom die wetteloosheid in die mate voor as wat tans in ons geteisterde land die geval is nie.

Introspeksie op die aangewese tyd is nie ʼn slegte ding nie. Ek wonder of Suid Afrika nie nodig het om dalk selfs ʼn week van ernstige introspeksie, selfs rou en weeklag af te kondig nie.

Sewe dae van ʼn eerlike en ernstige na binne kyk. Die spreekwoordelike vier vingers wat elke individu tot stilstand dwing en rekenskap vra.

ʼn Mens kan tereg vra wat besig is om met ons te gebeur. Die dae waar ons die skuld buite onsself posisioneer het, is lank reeds verby.

Dit laat my dink aan die eens bekende African-American spiritual –

Not my brother, nor my sister, but it’s me, O Lord,

Standin’ in the need of prayer

Die ongemaklike waarheid is dat ons besig is om koers te verloor. Baie van die uitdagings wat beleef word het ʼn wortel oorsaak. Dis diep in die hart van die mens waar die grond toksies geraak het.

Een week waarin skole, kerke, owerhede, besighede, sportklubs, ander samelewingsverbande die vlag halfmas laat hang.

Wat ook al jou verstaan van die spirituele behels, ʼn week van ernstige verandering wat in die eie hart begin.

Daar word deur verskillende sektore gepraat van “total shutdown”. Ek dink dit is die “shutdown” wat ons nou nodig het.

Ons moet die “long walk to freedom” nou in alle erns begin.

Dit moet by en in my begin.

Dalk volgende week mnr Ramaphosa!