Dit gaan ʼn baie goeie jaar wees

Christene het rede om met verwagting te leef. Die Here hét mos mooi dinge in gedagte ( Jer. 29:11) en wil jou daarby inskakel.

Een nuwe jaar besluit wat nog gemaak kan word is om nie God se tyd te mors nie. Dit klink sterk en grafies maar dit is presies wat ons doen as ons nie met verwagting en oortuiging lewe nie.
Die frase “Carpe Diem” som dit goed op. “Gryp die dag”. Elke dag is  ʼn genadegawe, eenmalig, (tyd wat verby is word nie herhaal nie) en  is gelaai met belofte (die Here se Woord en die feit dat Hy Immanuel God met ons is).
Die konteks waarbinne ons onsself bevind in Suid Afrika is wat iemand genoem het ʼn “missions paradise”. Daar is letterlik te veel geleenthede wat wag om benut te word. Niemand kan sê “ek weet nie wat om (vir die Here) te doen nie”.
Uiteraard begin dit by die huis en kring uit na al die samelewingsverbande waarbinne jy elke dag ontplooi word, maar dit moet onderskei en benut word . Moenie halsoorkop by ʼn ding betrokke nie. Vat ʼn dag of drie, kry al die inligting, hoor watter rolspelers daar is met wie jy sou kan saamwerk (jy hoef nie die wiel spreekwoordelik weer uit te vind nie) , besluit op ʼn strategie en gee die tree.
Jy ken jouself beter as enige iemand.
Wat raak jou hart as jy die koerant lees of TV nuus kyk?
Wat maak jou hartseer, ontstel jou of selfs kwaad?
Interpreteer die inligting. Praat met ander daaroor.
Die Here roep jou.
Moenie jou ore uitleen aan ander se vrese en vooroordele nie.
Waag dit saam met die Here.
Leef met verwagting en doen dan iets.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}