Dis tyd dat iemand begin luister.

Dis tyd dat iemand begin luister.

Ek luister na ʼn gesprek oor die radio wat by die Noordwes Kampus in Potchefstroom plaasvind. Dit vorm deel van die uitsendings wat deur die nasionale uitsaaier fasiliteer word waar standpunte van verskillende politieke partye op die tafel kom en bespreek word. Die ANC, EFF, DA en VF+ is verteenwoordig. Dit val my op dat opmerkings van die ANC en EFF telkens met luide toejuiging begroet word.

Belangrike kwessies word lewendig gedebatteer wat Engels as medium van onderrig insluit. Ek is beïndruk met hoeveel insig die onderskeie jongmense aan die gesprek deelneem. Daar is ʼn politieke bewussyn en deur die bank is hulle in staat om hul saak te stel.

Die kwessies sorg vir ʼn warm debat en die sake word by die naam genoem. Die dinge wat deur sommige van die deelnemers gesê word, ontstel my. Woorde soos kolonisering, rassisme, meerderwaardigheid en natuurlik apartheid kom gereeld voor.

Iemand uit die gehoor stel ʼn vraag. Is die EFF en ANC bereid om vergiffenis en verskoning te vra vir die vernietiging en vandalisering van eiendom, die ontwrigting van kampusse en die samelewing as geheel, uiteraard korrupsie en die verarming van ons samelewing omdat geld nie aangewend is waarvoor dit geoormerk was nie maar in die sakke van opportuniste geland het? Woorde soos Stalinisme en Nazisme word gebruik.

Die temperatuur styg. Ek assosieer met sommige aspekte van die vraag. Hoe verduidelik ʼn mens die beskadiging van geboue en die vernietiging van bronne, brandende buitebande en landwye stakings? Ek ervaar dat ek gewoonlik aan die ontvang kant staan en moet hoor dat ek moet jammer sê. Dis tyd dat die bordjies verhang word, dink ek in die stilte.

My gees is opstandig en ontsteld. Dan reageer die jongmense. Dis die ongemak wat oorgekook het na ʼn tyd van memorandums stuur, mooi praat en vra dat na hulle geluister sal word. Dis blyk dat die owerheid net hoor as daar rookwolke is. Niemand luister as mens ordentlik en beskaafd optree nie.

“Kom staan vir ʼn slag aan hierdie kant”, kom die uitnodiging van een van die jongmense.

Ek sukkel daarmee. Dit gaan ʼn stuk eerlikheid van my vra, om sonder verskonings, ʼn agenda, vooroordele en antwoorde wat reeds formuleer is voordat ek die vraag gehoor het, te kom luister, kyk en beleef.

Dit bly egter eggo in my ore.
“Kom staan ʼn slag aan hierdie kant”.

Die owerhede het doof geword vir mooi vra en antwoorde soek. Jy moet skop en skree, jy moet protesteer en ontwrig voordat daar na jou geluister word.

Ontstelde en ontstoke inwoners van Alexandra sal dieselfde argumenteer. Informele en onveilige strukture skiet soos paddastoele op. Lewens omstandighede is bedenklik en mense se griewe word ignoreer. Die burgemeester is te besig. Die mense het altoos belangriker afsprake wat nagekom moet word. `ʼn “Chinese” afvaardiging word gestuur en die verwagting is dat die arme man goed ontvang sal word. Dit gebeur uiteraard nie.

Brandende buitebande versper strate en verkeer word ontwrig. In die agtergrond sien ek opgestapelde vullis as die joernalis met een van die ontstelde inwoners op kamera ʼn gesprek voer.

Dis ʼn refrein.

Niemand luister meer as dit nie met geweld en ontwrigting gepaard gaan nie.

Ek is steeds nie gemaklik met die beskadiging van eiendom nie maar ervaar dat mense in hierdie land nie gehoor word nie. Natuurlik is daar onrealistiese verwagtinge maar skoon water, behoorlike riolering, begaanbare paaie en vullisverwydering, benewens effektiewe polisiëring en infrastruktuur ontwikkeling is nie onrealistiese verwagtinge nie.

Armoede is reeds erg maar brandstof en energie pryse gaan onrusbarend op. Jan en Alleman kreun onder die gewig van stygende pryse en politici word deur meer polisie beskerm as die publiek.

Een berig meld daar is net een polisie beampte vir 1200 mense in Dobsonville. Verder is die polisie dikwels kop en een mis met buitelanders, kriminele sindikate, bendes en ander vorme van verontregting.

Daar is belangrike vrae in Suid Afrika wat ontsteltenis veroorsaak word en beantwoord moet word.

-Jy kan nie mense wat ernstige integriteitsvrae het as parlementslede benoem nie.

-Wanneer word skuldiges tot verantwoording geroep vir hul kriminele aktiwiteite.

-Daar is grootskaalse ontsteltenis oor die sekretaris generaal se geloofwaardigheid van die ANC n.a.v. die boek van wat tans verskyn het.

Kaders beskerm mekaar ten bloede. Die Zondo kommissie het vermaaklikheidswaarde. Niks kom reg nie.

Mense, Suid Afrikaners, word nie gehoor nie.
Verkiesingsbeloftes hou net tot die verkiesing verby is.

Die owerhede mors met mense. Hulle is ongevoelig en onbetroubaar. Die pot gaan oorkook. Dit kan nie so aangaan nie. Dis tyd dat iemand begin luister. Dis kru om mense so te ignoreer.

Jesse Duarte herinner `ʼn joernalis in geen onduidelike taal dat hy arrogant en net ʼn joernalis is. Hy moet darem sy plek ken en weet met wie hy te make het.

“Me Duarte en ander belanghebbendes, u is net politici, nie gode nie. Dis tyd dat u afstand neem van u arrogante houding. Dit gaan immers oor die mense van die land, van Suid Afrika, nie oor die oor en weer beskerming van kriminele nie.

Ons leef naby aan die afgrond in hierdie land.
As ons so aanhou stort ons almal die diepte binne.
Dis tyd dat iemand begin luister.