Ek luister, was dit Saterdag of Sondag, een oor na 50/50 op TV. Dis mos daardie natuurprogram wat vele interessanthede met kykers deel en ʼn mens diep onder die indruk bring van die kompleksiteit, skoonheid en besondersheid van God se skepping.
 
Toe die program afsluit en die name van almal wat die program moontlik maak een na die ander verskyn, sing die bekende Carike Keuzenkamp die mooi lied “Dis ʼn land”.
Sommige sou my dit wou kwalik neem dat ek so oor die “hier en die nou” skryf, eerder as om mense “vir die hemel” voor te berei.
 
Ja, vir ʼn baie lang tyd het die kerk dit as haar vernaamste taak gesien om mense vir die ewigheid “gereed” te maak.
Sodra jy geloofsekerheid het (Jesus as Verlosser aangeneem het) wag jy soos op ʼn stasie dat die trein na die hemel verby kom en jy kan opklim. Op dié manier kan mense (oënskynlik) nie wag om te sterf en by die Here te wees nie.
 
So gaan dekades verby van ʼn rustelose gewag op iets wat nog moet gebeur.
 
Nee, duisend maal nee.
 
Ons wag nie vir iets wat nog moet gebeur nie, ons leef vanuit die werklikheid van iets wat reeds gebeur het. Ons het nou reeds deel aan die hemel, weliswaar voorlopig en gebroke vanweë die nawerking van die sonde, maar niks minder reëel nie.
 
Ons gaan nêrens nie.
 
Die hemel het na ons gekom, op aarde.
Ons taak en roeping is om die hier en nou ( die aarde, ook ons konteks) toenemend deur lewe, woorde en dade in hemel te verander. (God se Koninkryk, dink aan die Ons Vader gebed)
 
Ons is rigtingwysers na God se oorspronklike bedoeling, nl. die paradys.
 
Voor die sondeval was daar ʼn ongeskonde verkeer en harmonie tussen God en mens, mens en mens en mens en natuur. Die sonde het dit ernstige skade berokken maar vanweë die herskepping en die versoening in Christus Jesus ons Here is die proses omgekeer.
 
Ons is op weg na die paradys, dalk eerder, die paradys is op pad na ons.
 
Dit sal met die wederkoms ʼn volle werklikheid word.
God het ons ʼn mooi land gegee.
Dis ook híér waar hemel moet kom.
Moenie wag op iets wat reeds hier is nie.
Gee gehoorsaam en gelowig inhoud daaraan.
“Dis ‘n land van kleure en klank
dis ‘n land van oorvloed en dank
dis ‘n land waar almal na strewe
Dis ‘n land sonder horison en
dis ‘n land wat weet hy kan
ook ‘n blyplek neerlê vir my”
https://www.musixmatch.com/lyrics/Carike-Keuzenkamp/Dis-n-land
Die bekende gesang 177 bevestig dit.
1. EK SIEN ‘N NUWE HEMEL KOM,
‘N AARDE NUUT EN VRY.
DIE SEE EN AL WAT SKEI, VERDWYN.
GOD SELF KOM BY ONS BLY.
2. DIE NUWE STAD, JERUSALEM,
DAAL UIT DIE HEMEL NEER:
SKOON SOOS ‘N BRUID IN HEERLIKHEID –
GELIEFDE VAN DIE HEER.
Groete, Jannie Pelser