Dis bitter moeilik maar jy kan

ʼn Mens is ʼn baie delikate wese. Ons ego word maklik gekwes en dit neem tyd om daarvan te herstel. As jou selfbeeld onder druk is is dit soveel moeiliker om weer op te staan veral  nadat iemand jou, na jou mening, te na gekom het.

Ek glo dat ons almal daardie gevoel van “in jou eer gekrenk te wees” ken. Dis nie lekker nie, inteendeel, dit is seer. Iets in jou krimp in mekaar, iewers is daar ʼn roering, jou vrymoedigheid is daarmee heen, jou verdedigingsmeganismes skop in en jy moet besluit of jy gaan veg, vlug of vertrou.

Sommige mense word deur konflik energeer en hulle is gedurig haaks met iemand. Vir hulle is almal gedurig daarop uit om hulle te verontreg en hulle is op “high alert”. Die minste provokasie en jy met die artillerie te doen. Die skote word kort op mekaar gevuur en dit tref. Dan voel daardie persoon, die Engels praat van “validated”. Hulle sê dikwels “jy moet nie met my sukkel nie. Ek vat nie nonsens nie, van niemand nie. Ek laat nie met my mors nie. Jy sal sleg tweede kom”.

Ander hou niks van konflik nie en sal dit te alle koste, ook tot nadeel van hulself, vermy. Hulle loop soos gekweste diere rond en die pyn is op hul gesigte leesbaar. As ʼn mens vra wat fout is verseker hulle jou dat alles in  orde is. Hulle maak negatiewe emosies bymekaar en stoor dit netjies in leërs vir latere verwysing. Die feit dat hulle seergemaak is en word verklaar waarom hulle so ellendig voel.

Die Bybel het ʼn model, die van eerlike interpersoonlike verhoudings wat op respek gebou is. Ons moet fyn ingestel wees op mekaar, veral hoe nader ons aan mekaar beweeg. Ons moet ruimte maak vir mekaar se “opweg wees” en in ag neem dat die reis vir niemand afgehandel is nie. Ons moet die gesindheid van Jesus openbaar en mekaar met deernis ondersteun.

Soms is reguit praat deel daarvan. Dan vra ʼn mens toestemming om ʼn gedagte te deel. Jy praat met nederigheid en nie van morele hoëgrond asof jy die lewe volledig verstaan en al die antwoorde het nie. Jy vra by voorbaat verskoning as jy die situasie verkeerd opsom en stel jou saak dan sonder om te baklei.

As jy aan die ontvangkant staan nader jy die persoon wat jy reken jou verontreg het met liefde. Jy vra of dit geleë is om ʼn saak te bespreek en vra by voorbaat vergiffenis as jy die saak verkeerd opsom of verkeerd opgestaan het. Jy se wat jy gehoor het en vra of dit is wat die persoon gesê en bedoel het. Jy vra vir ʼn verduideliking en bied gronde aan om die misverstand op te klaar. As jy skuldig is, is jy groot genoeg om dankie te se dat die persoon jou daarop gewys het en verseker daardie persoon dat jy voortaan sensitief sal wees.

As die saak na watter kant toe ook al nie dadelik opgeklaar word nie vertrou jy dat die Here dit op sy tyd en wyse sal uitwerk.

Die wêreld is wreed genoeg soos dit is. Dit is regtig nie nodig dat God se kinders mekaar se koppe gedurig was nie, ook nie vanaf die kansel af nie.

Ek herinner my dat Jesus net met die Fariseërs en Skrifgeleerdes kwaai was. Hulle hoogmoed en aanstellerigheid het Hom nie beïndruk nie. Sy optrede was deurgaans deur sagtheid en deernis gekenmerk.

MATTEUS 5:23

“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het,

laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.