Kies verantwoordelik
Deel 2 van 3

Verwag ons te min of te veel van politieke partye?

Waarskynlik is die antwoord ja. Ons verwag te min en te veel van politieke partye, soos ons te min en te veel verwag van die kerk.

Kom ons begin by die kerk.

Dat die kerk, in sy plaaslike gemeente gestalte, ʼn asemrowende voorreg en verantwoordelikheid het om ( deur sy leierskap) verantwoordelikheid te neem vir die omvattende vorming en toerusting van sy lidmate, is duidelik so. Dat lidmate oorwegend ontoereikend voorbereid is op dit wat die lewe bring en bied, is eweneens so.

Die kerk doen nie genoeg nie.

Die kerk (ek veralgemeen) is te veel met rant sake besig en te ver verwyder van haar kernbesigheid, met die gevolg dat bronne wat tyd, geld en menslike kapitaal insluit, in beuselagtighede verdwyn.

Baie beleef die kerk as irrelevant en ver verwyder van die daaglikse lewe.

Die kerk bestaan uit mense. Ons is die kerk en Jesus is die Hoof daarvan.

Ons het egter ook ʼn verantwoordelikheid.

Opdaag is een van die primêre gestaltes van lewende lidmaat wees. Geleenthede om toegerus te word, te assosieer en saam te groei is wesentlik deel van Nuwe Testamentiese kerk wees.

Lees vir ʼn slag weer die eerste hoofstukke van Handelinge om te sien hoe ʼn geloofsgemeenskap met mekaar saamleef.

Die wekroep om betrokke te raak val dikwels op dowe ore.

Inderdaad, ook lidmate, gelowiges, leef ver verwyder van hul kernbesigheid, die koms van God se Koninkryk op aarde.

Oordragtelik is dieselfde waar van ʼn land se politieke bestel. Burgers mag met die verwagting leef dat hul leefwêreld georden, netjies en veilig vertoon. Dit behoort nie nodig te wees om jou kinders agter hoë heinings te beskerm nie.

Suid Afrika het ʼn onveilige plek geword.

Aan die anderkant het burgers ʼn verantwoordelikheid teenoor die land waarin hulle woon, teenoor mekaar en teenoor God wat die plek aan hul toevertrou het.

Suid Afrika is verwaarloos en dit is ons korporatiewe verantwoordelikheid en skuld.

Ons strate is vuil en die gate word al dieper.

So het ene Dirk Venter besluit om hand aan die ploeg te slaan en self slaggate te begin herstel. Op datum het die inwoner van Potchefstroom nie minder as 5000 gate “toegestop” nie.

Medeburgers is verwaarloos en leef onder onmenslike omstandighede.

Ons moet ʼn stem wees vir die wat geen stem het nie.

Ons het vaardighede wat ander ten goede mag kom.

Ek verwys telkens na Nehemia se strategie vir heropbou.

Elkeen voor sy huis. Dit begin binne in die huis.

Wat verwag jy so aan die vooraand van die verkiesing van jou voorkeur politieke party?