Dink soos ʼn grootmens

Die lied op die liefde in 1 Kor.13 is baie bekend en gewild en ook nie sonder rede nie. Wie wil nie oor die liefde nadink nie?

Onlangs moes ek by ʼn begrafnisdiens waarneem en die familie het gevra dat ek vers 11-13 as vertrekpunt vir die boodskap sal gebruik. Ek kan nie onthou dat ek in die leeftyd in bediening al oor vers 11  “gepreek” het nie.

“Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind”.

Daar is ʼn reuse verskil tussen kinderlik onskuldig wees en kinderagtig wees.

Jesus maan sy dissipels om nie in die pad van kinders te staan nie. Die Koninkryk van God behoort aan hulle juis omdat hulle so reserweloos en volkome kan vertrou. “Jesus woon in my hartjie en dit is genoeg”.

Dit is eers later dat ons opgroei en krities begin raak oor die lewe, onsself en selfs God. Dit verskil egter van ʼn roekelose kinderagtigheid wat die wêreld geen guns doen nie.

Wanneer ons sommer halsoorkop, sonder beplanning en sober denke, verantwoordelikheid en dissipline aan die spel van die lewe deelneem, beland ons en ander in gevaarlike waters. Wanneer ons onsself deur emosies, vooroordele en agterdog laat lei beduiwel ons verhoudings en word mure tussen mense gebou.

Wanneer ons eiebelang eerste stel, selfsug en selfverryking ons dryfveer word, is ons in die moeilikheid.

Wanneer die toekoms en komende geslagte uit ons verwysingsraamwerk verdwyn asof ons die laaste generasie op aarde is en alles maar verrinneweer en verwaarloos kan word, lê selfverwyt en wag.

Kinderagtigheid in ons politieke en ekonomiese sfeer is nie onbekend in Suid Afrika nie.

Mense dink soos kinders en weier om groot te word. Hul redenasie vermoë het nooit die kinderstadium ontgroei nie.

Geestelike, emosionele, sosiale en intellektuele volwassenheid is broodnodig vir die tyd waarin ons lewe.

Dink ʼn bietjie oor die lewe na. Paulus praat van volmaak en volwasse soos Christus in sy brief aan Efese.

EFESIËRS 4:13

So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Suid Afrika, trouens die wêreld kan die kinderagtigheid van sommige leiers, plaaslike en internasionaal net nie meer bekostig nie.

Sal die hemel ons bewaar teen kinderagtigheid.