Markus 9 
Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

Ons het gister verwys na die gebruik van die woordjie ‘moet’ in die eerste lydingsaankondiging deur ons Here. In die een wat daarop volg, die tweede van drie, sê Jesus dat hy oorgelewer word. 

Die tydsaanduiding dui daarop dat iemand Jesus in die hande van die mense oorgee. Die verstommende antwoord is dat dit die Vader is wat sy Seun offer. Dit herinner ń mens aan die Abraham verhaal. Daar het God ń plaasvervanger gegee maar in die geval van sy Seun word die offerdaad voltrek. 

Die gebeure rondom Jesus se passie is aangrypend en ontstellend. Wat mense aan Hom doen is onverskoonbaar. Inderdaad weet hulle nie wat hulle doen nie. 

Wat die Vader aan sy Seun doen kan nie met woorde beskryf word nie. Dit is onrusbarend ontstellend. Tog is Jesus daarin nie ń hulpelose skaap ter slagting nie maar ń gewillige medewerker. Niemand neem sy lewe by Hom nie. Allermins roof die duiwel dit. 

Hy gee Homself gewilliglik ter wille van mense wat blind, doof, onkundig, opstandig en 
rebels is. 

Mense soos ons.