Die huwelik – jul verantwoordelikheid!

Die huwelik – jul verantwoordelikheid!
Dankie dat jy saamreis en saam droom oor ʼn huwelik wat nog gelukkiger kan wees.
Wat die huwelik betref “arriveer” ʼn mens nooit. Jy kan nooit  sê “alles wat ʼn mens kan beleef het ons beleef nie”.
Dit mag waar wees dat mense wat lank getroud is later weet wat die ander gaan sê nog voordat dit gesê is. Dit mag waar wees dat lank getroudes later na mekaar begin lyk. Tog is daar altyd die verrassende en onvoorspelbare.
Ons bly uniek en eenmalig. Ons moet dit van mekaar waardeer.
Ons het die afgelope paar dae oor verskillende temas gesels. Jy kan “terugblaai” en weer daarna kyk. Dalk is daar iemand wat juis nou hierdie insette nodig het. Deel dit gerus met hulle.
Die reis is voltooi wat hierdie week betref alhoewel die huwelik net te dinamies is dat ʼn mens in sewe bloginskrywings alles kan sê. Inteendeel, dit neem ʼn leeftyd .
Vandag wil ek jou aanmoedig om bewustelik verantwoordelikheid te aanvaar vir die groei van julle verhouding. Ek wil jou uitdaag om nuuskierig te raak oor die mens met wie jy verbind is. Tyd is essensieel om die ander te leer ken. Begroot bewustelik vir verrykingsgeleenthede. Daar is uitnemende geleenthede waar ʼn mens saam kan groei. Google gerus die Imago program. Dit word plaaslik oor ʼn naweek aangebied en is ʼn belegging in jul verhouding.
Huweliksverryking en huweliksterapie is twee goed. Eersgenoemde is vir gesonde huwelike wat nog gelukkiger wil wees. Lg. is vir mense wat tans in troebel waters oorleef.
Beide is belangrik. Hulp soek is nie ʼn skande nie. Dis volwasse. Dis die regte ding om te doen. Ons moet ons trots en hoogmoed in die sak steek as dit by ons verhouding kom en hulp vra waar nodig.
Alle huwelike het iewers langs die pad hulp nodig. Ons het ʼn verantwoordelikheid om ons huwelik in stand te hou. God vra van ons rekenskap. Moenie handdoek ingooi nie. Glo en doen iets as daar ʼn kortsluiting is wat aangespreek moet word.
Gebed
Here, U ken ons beter as wat ons onsself ken. Dankie vir my lewensmaat. Ons beleef stormagtige tye soms. Dankie dat dit nie die einde van ons verhouding beteken nie. Ons gaan die duiwel nie sy sin gee nie. Ons kies weer vir mekaar en vir ons verhouding. Lei ons in waarheid en gee ons die moed en krag om weer en weer te probeer. Waar nodig bring ons by mense uit wat kan help.
Ons eer U
Amen