Die Gees in 2018 steeds werksaam
Kan dit wees dat die Heilige Gees mense in dieselfde mate
wil en kan bemagtig vir die tyd waarin ons lewe?
Doen die Gees van die Here nog wat plaasgevind het met die
ontstaan en uitbreiding van die nuwe Testamentiese gemeente?
Was die buitegewone werking van die HG beperk tot die eerste
geslag Christene en gemeentes net om die bal spreekwoordelik aan die rol te kry.
Daarmee saam waarom sien ons so min tekens van Geesvervulde
lewens?
Waar is die wonders en tekens wat Nuwe Testamentiese
gemeentes gekenmerk het?
Dan weer is daar gerugte van ongewone optrede deur die Gees
maar gemeenskappe verander nie. Die wêreld bly soos hy is. Terwyl sommige
gemeentes melding maak van die bo natuurlike werking van die Heilige Gees loop
daardie gemeentes ook uiteindelik leeg en gooi hulle die handdoek in.
Wat moet ons dan glo van die Heilige Gees en hoe relevant is
Hy vir ons tyd?
Die Gees se werking word nêrens in die Skrif aan ʼn bepaalde
tyd gekoppel so asof dit net die wegspringblokke is vir kerk wees in hierdie
wêreld nie. Die belofte “Ek is met julle tot aan die voleinding van die wêreld”
is ter sake. Niks kan ons nooit vervreem behalwe hardnekkige sonde van die
immer teenwoordige God drie enig nie.
Dit is die ewige lewe sê die Woord dat die Vader, Seun
en Heilige Gees intrek neem in die hart en lewe van die gelowige. Hy is
Immanuel, ook in en deur die Heilige Gees.
Dwarsdeur die geskiedenis van die kerk was daar tye van
geestelike oorvloed en manifestasie deur en van die HG en tye van insinking en
droogte. Dit is sekerlik nie God se bedoeling nie maar hang saam met die mens
se onvermoë om volhoubaar in die dampkring van God se Geesgenade te leef.
Iewers taan die energie en wil om so voort te lewe. Die koue tree in en die
kerk raak weer ongeloofwaardig en stukkend. Israel is daarvan ʼn goeie
voorbeeld. Tye van geestelike hoog bloei gevolg deur tye van afsydigheid en
verval. Die gevolg van dié geestelike agteruitgang speel uit in  swaarkry en sukkel. Wanneer die Godsvolk
genoeg gely het onthou hulle aan wie hulle behoort en waartoe Hy Hom verbind
het. Hulle onthou die tye van hoogbloei en begin daarna verlang. Hier en daar
begin gebedsgroepies die aangesig van die Here soek. Op ʼn dag breek die
Pinkstervuur in die harte van mense in . Nuwe herlewing word gebore. God doen
weer wonders en tekens en magtige dade. O, hoe smag ons nie daarna nie. Die tyd
was seker nog nooit so ryp vir ʼn nuwe Godsverskyning nie. Soos in Elia se tyd
is mense nie meer seker dat Hy is wie Hy se Hy is nie. Hulle loop op ʼn
geestelike twee spoor. Hulle dien die wêreld en vir God. Albei bly in die slag.
Dis tyd van keuse uitoefen. Dis tyd van beslissing maak. Dis ʼn kairos oomblik,
ʼn oomblik van waarheid. Die Woord sê God vind louwarm geestelike lewens
nie aanvaarbaar nie. Hy spu dit uit sy mond omdat dit na niks smaak nie. Sal
ons die Here nie weer aangryp nie? Sal ons Hom nie vertrou vir ʼn nuwe
geestelike ontmoeting van en met en deur die Heilige Gees nie?
Jannie Pelser