Die Fees van afsondering…

maar nie vir almal nie!!

Dankbaarheid

Suzette vertel my vanoggend van ʼn “watsup” boodskap wat sy ontvang het wat na die 21 dae van eenkant wees as die “fees van afsondering” verwys. Die oorspronklike skrywer vertel dat sy aanvanklik baie negatief gevoel het oor hierdie tydperk totdat die Heilige Gees haar oortuig het om anders daarna te kyk. Dit bring haar by die mooi en betekenisvolle term, “ die fees van afsondering”.

Soos dikwels weet ʼn mens nie wie die oorspronklike outeur van so ʼn boodskappie is nie omdat dit welmenend van persoon tot persoon aangestuur word. Ek leen dus die gedagte met vrymoedigheid en wil in die dae wat voorlê inhoud gee daaraan.

Dit is absoluut waar dat die manier waarop ʼn mens dink oor ʼn saak ʼn direkte invloed op jou belewenis het. ( Rom. 12 “be ye transformed by the renewal of your mind”)

Dat die tyd van  isolasie uitdagend gaan wees staan soos ʼn paal bo water. Mense is van nature sosiaal. Ons het interaksie nodig en wil aan mekaar raak. Om afstandelik te leef is onnatuurlik en kan ʼn gevoel van vereensaming en depressiwiteit tot gevolg hê.

Kom ons kry ons denke in ʼn ander rat, besluit by voorbaat dat ons individueel en gesamentlik baie beter toegerus uit die “stryd” gaan tree. Ons vertrou voorts dat die virus in sy spore gestuit sal word en dat die Here ons sal bewaar.

Mens dink onwillekeurig aan kontekste waar afsondering  feitelik onmoontlik is. Daar is honderde woonbuurte met seker miljoene Suid Afrikaners waar opslaanhuise teenoor en langsaan mekaar geparkeer staan. Ablusie geriewe word gedeel en die infrastruktuur is onmenslik gebrekkig.

Mense staan met emmers by handpompe om water uit die grond te trek. Grys water ( ʼn gesofistikeerde woord vir  riool) loop in die pad af waar kinders speel. Daar is van privaatheid geen sprake nie en almal se besigheid is net dit, almal se besigheid.

Daar is baie ander vergelykende scenario’s waar afsondering ook  nie so ʼn eenvoudige aangeleentheid is nie. Dit is veral wanneer ʼn mens klein kindertjies in die huis (woonstel)  het dat die uitdagings groot raak.

Daar is mense wat nie nood aankope kon doen nie omdat die middele nie beskikbaar is nie. Gesonde dieet is iets wat nie ter sprake kom in ʼn konteks van oorlewing nie.

Ander moes tot op nr. 99 werk. Dit het my opgeval dat bv. tuisdienste tot gister laatmiddag nog gelewer is. Ek het gewonder oor die werkers en of dit regtig belangrik is dat die gras gesny moes wees.

Daar is uiteraard talle noodsaaklike dienste wat moet voortgaan in ʼn tyd soos hierdie. Dit stel mense se lewens in gevaar en geskied ten koste van hulle. Veral mediese dienste kom by ʼn mens op. Daar het jy nie die luukse om behandeling te weier nie.

As ek weer ʼn slag na die “ongerieflike” afsonderingstydperk nadink, stukkie tuin rondom ons huis, iets in die yskas, sosiale media en wifi , TV en radio, boeke en tydskrifte, koffie en Coke, persoonlike gesondheid en immuniteit, ens. ens., is ek skielik skaam dat ek dalk nie so dankbaar is as wat ek behoort te  wees nie.

Mag die Here onderneem waar die uitdagings groot en onhoudbaar is.

Ek bedink die woorde van ʼn eenvoudige liedjie wat ek geskryf het.

Ek dank U Here vir ʼn nuwe dag

Ek dank U Here vir U wondermag.

U kom as mens, verlaat U troon

U kom by ons op aarde woon.

Groete

Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster