Die EFF in ons.

Die EFF se gedrag tydens die afgelope SONA gebeure is onaanvaarbaar om die minste te sê. Ek dink nie baie sal van my verskil nie. Ek kan ʼn hele paar byvoeglike naamwoorde byvoeg om vanuit hul optrede te tipeer. Daaronder tel onvolwasse, onopgevoed, selfsugtig, kortsigtig, kinderagtig en nie opgewasse vir  politieke verantwoordelikheid nie. Soos tweejariges gooi hulle ʼn vloermoer as hulle nie hul sin kry nie en manipuleer gruwelik.

Ek is dankbaar dat mnr. Ramaphosa hom nie aan die soort tirade steur nie en dat die EFF ʼn koue skouer kry. Dat die tipe optrede Suid Afrika onberekenbare skade berokken word nie deur hulle verdiskonteer nie en terwyl mense met honger mae agter ʼn gewetenlose leier aanstap ry hy en sy kamerade in spogmotors en ontwerpersdrag rond. Hartseer maar waar.

Die vraag is egter of die tipe optrede ook deel van sommige van ons se hanteringsmeganismes is. Met besondere verwysing na die baie verhoudings waarin ons noodwendig staan is die vraag hoe ons kritiek en teenstand ervaar en hoe ons uitdrukking gee aan ons emosies. Veral binne die intieme ruimte van die huwelik word onvolwasse optrede dikwels ervaar. Persoonlikhede, agtergrond, lewens en wêreldbeskouing, prioriteite, drome en ideale, talente en vermoëns, om maar ʼn paar dinge te noem, verskil van persoon tot persoon. Ons is nie bloudrukke van mekaar nie. Daar moet ruimte wees waarbinne die partye betrokke kan ontwikkel en die nodige vaardighede kan inoefen.

In die huwelik is ons somtyds mekaar se grootste kritici, selfs ongenaakbaar en erg persoonlik. Dinge word gesê wat nie maklik vergeet word nie. Brûe word met elke konfrontasie oorgesteek wat moeilik herstel kan word. Dit gaan letterlik en na mate ons nie ons sin kry nie van erg tot erger. In die proses dryf mense somtyds sover uitmekaar, is daar soveel lelike dinge gesê en gedoen, het die seer in so ʼn mate gegroei dat niks en niemand dit weer kan herstel nie.

Ons mag nie soos die EFF optree in ons verhouding met ander nie. Niemand verwag volmaaktheid by enige iemand anders nie. Ons is almal op reis. Ons moet egter vorder op hierdie reis, somtyds stilhou en nadink, somtyds terug gaan na waar ons die spoor byster geraak het, jammer se en jammer leef.

Ons moet hulp soek waar dit nodig is en daarop let dat ons die koninkryk van God waarvan ons burgers is skade berokken deur ons voorbeeld nie.