Die afgelope paar dae was ʼn skoppelmaai ervaring met
betrekking tot of  mnr Zuma gaan bedank
of hy nie gaan bedank nie. Selfs gisteraand met sy swanesang was ek oortuig dat
hy steeds weier om die tuig neer te lê. Sy herhaalde verwysing na die
mandaat van die kabinet in dié verband het my tot op die einde van
sy voordrag op die punt van my stoel gehad. Toe maak hy ʼn verrassende u draai
en kondig sy uittrede aan maar nie sonder om hier en daar ʼn steek in te kry
nie. Eerder as om die skuld vir die toedrag van sake te aanvaar en soos ʼn man
die gevolge daarvan in die gesig te staar het die wit minderheid weer
deurgeloop.
Feit van die saak is,  ons is bevry van die man en glo dat ʼn
hoopvolle toekoms voorlê. Natuurlik moet ʼn mens realisties wees . Hy was daarin
korrek alhoewel hy dit eerder as verontskuldiging aangebied het dat niemand
volmaak is nie.
Ek het mnr Zuma jammer gekry selfs al was hy ʼn bron van
frustrasie. Hy het ʼn eensame man van die podium af weggestap te midde van ʼn
stil groep joernaliste. Ek het gehoop iemand sal darem handeklap al is dit net
om sy menswees te erken. Daar het eerder ʼn kliniese gelatenheid geheers en
mense het hul toerusting begin op en in pak.
Waarvoor sal mnr Zuma onthou word?
Bitter min indien enige iets betekenisvol of positief. Sy
kenmerkende irriterende laggie het hy as afskeidsgeskenk aangebied. Sy
stotterende manier van voordrag het nooit verander nie asook  sy slaafse verbintenis aan die geskrewe teks.
Sy onvermoë om skuld vir enige iets te aanvaar en altyd ander te blameer. Sy blatante
leuens wat vir die waarheid aangebied word. Die Nkandla sage en die wyse waarom
die burgers van ons land beledig is, stel jouself voor ʼn swembad om brandgevaar
te bekamp. Sy selfverryking en verbintenisse aan ander op die soustrein. Sy onvermoë
om morele leierskap te demonstreer.
Ek is bevrees bitter min.
Aan die ander kant was en is hy ʼn mens mens wat ander mense maklik
om sy pinkie kon  draai . Hy is ʼn geslepe
strateeg wat nie maklik opgee nie. Tot op die einde is hy die onskuld vanself
en moet wit monopolie kapitaal en sy verbintenis tot radikale ekonomiese
transformasie die skuld kry vir alles.
Sal mnr Zuma sy dag in die hof hê? Is die gevangenis sy
voorland? Wie weet?
Sou enige iemand homself die dag kon voorstel dat die Valke
hul motors voor die deur van Saxonworld gaan parkeer, dat die Esidimeni verhoor
plaasvind, dat minister Bathabile Dlamini    tot
verantwoording geroep word en dat  Brian
Molefe sy miljoene “hardverdiende” pensioengeld moet terug betaal , onthou hy
het 18 maande diens agter die rug. Die wiel draai en die dag van afrekening het
gekom.
Mnr Ramaphosa is die aangewese  staatspresident van Suid Afrika. Die
staatsrede sal deur hom voorgedra word. Die rand is besig om sy kop op te tel
en internasionale beleggings toon  nuwe
belangstelling in ons land. Selfs die wolke het begin om reën te gee.
Ek vertrou mnr Ramaphosa sal die geleentheid gebruik om van
die dooie hout ontslae te raak. Ek verstaan dit is ʼn baie sensitiewe en bykans
akrobatiese optrede waartoe hy in die volgende dae geroep word. Om Suid Afrika
te dien, getrou te wees aan sy gewete, die internasionale gemeenskap tevrede te
stel en die belange van sy party voorop te stel is ʼn bykans onmoontlike taak.
Hy sal ons gebede nodig hê.
Met mnr Zuma uit die pad is hy in die visier. Die
heldeverering sal kortstondig wees. Die opposisie kort ʼn nuwe fokus. Opposisie
politiek soek ʼn sondebok. Sterkte mnr Ramaphosa, die wittebrood sal kortstondig
wees.
Is God iewers hierby betrokke? Sonder twyfel, of glo ons nie
in die krag van gebed nie?
Hoe hunker ons nie na ʼn dag wanneer mnr Mandela se droom van
ʼn nie rassige naasbestaan ʼn werklikheid word nie. Ons het een maal iets van die
euforie van die moontlikheid beleef. Dit was met die wêreldspele . Vivuzelas
het die murg uit ons pype geïrriteer maar dit was uniek en Suid Afrikaans.
Sal die vlag van ons eenheid as nasie nie weer gehys word
nie? Kan  ons ons kleinserigheid en
bedreigdheid dalk eenkant sit en vra hoe lyk ʼn wen vir al die mense van ons
land? Kan ons aan iemand anders dink as onsself eerste? Immers dis die
voorbeeld wat Jesus gestel het. Hy het sy sekuriteit verlaat en die onsekerheid
van ander betree.