Derde Kruiswoord

“Daar is u seun… Daar is jou moeder.” (Joh. 19:26-27)
Dat Jesus te midde van sy persoonlike worsteling nog die teenwoordigheid van gees openbaar om aan sy moeder te dink is merkwaardig. Ons lewe in ʼn tyd waar kinders dikwels so besig raak met hul eie dinge dat daar min tyd is om aan ouers te spandeer. Die belangrike gebod dat ouers geëer moet word, word ook van ʼn wonderlike belofte vergesel…sodat dit met jou goed mag gaan.
Wanneer dinge deurmekaar loop in ʼn mens se lewe mag dit die moeite werd wees om te vra in watter mate hierdie gebod verontagsaam word.

Dit gebeur dikwels in gemeentelike praktyk dat ʼn ouer skaam by die kerkkantoor aanklop en om hulp vra. Ander kere kom nood met ʼn ompad by die gemeente uit. In die praktyk het daardie hulpbehoewende persoon dikwels kinders wat die verantwoordelikheid het om na hul ouers om te sien. Dit is ʼn onvervreembare verantwoordelikheid en geen verduideliking kan die verwaarlosing van ouers regverdig nie. Selfs al moet kinders hulself sekere luukshede ontsê mag dit nie gesê kan word dat hul ouers verwaarloos en vereensaam is nie.

Uiteraard is ouers nie altyd geneë om te erken dat hulle hulp nodig het nie. Waarom wag totdat ouers dit moet sê? Wat van ʼn ereskuld wat terwille van die gewete en dankbaarheid in elk geval ouers toekom?

Ek kan myself dit indink dat sommige hierdie gedagtes  nie goed ontvang nie. Dit neem niks weg van die erns waarmee ek dit skryf nie. Daar is uitsonderings waar kinders doodgewoon nie kan help nie. Dit moet egter die uitsondering bly.

Hoe besonder geseënd is ouers nie wie se kinders hulle nie vergeet het nie.
Die “wiel draai” sê die gesegde, “what goes around  comes around”.
Waarom die risiko loop? Doen die regte ding.
Ek hoor Jesus vir volwasse kinders sê “seun, dogter, daar is jou moeder en vader”.