Depressief of perspektief

Ek gesels met my mentor oor die magdom gevoelens wat elke dag oor ʼn mens spoel. Die konteks waarbinne ons in Suid Afrika, ja die hele wêreld woon, laat ʼn mens skoppelmaai.

Dis die vólle spektrum van emosies wat ʼn mens beleef.

Teleurstelling, ontwrigting, hartseer, twyfel en vrees.
Aggressie, woede, verwagting en hoop.
Dan weer ongeloof, verontwaardiging en mismoedigheid.
Ja, somtyds gevoelens van desperate angstigheid.

Waarheen is ons op pad?
Wat van ons kinders en ons kleinkinders?

Die toekoms hang soos ʼn onheilswolk oor ons. Die silwerrant ontbreek.

“Wonder of ek depressief is”, sê ek vir Johan.
“Nie depressief nie”, reageer hy, “jy kort perspektief”.

Die lewe is wat ʼn mens daarvan maak. Ons kan kies of ons onsself so gaan laat intimideer deur die gebeure van die dag dat ons teen hoop in begin leef.
Of ons kan kies om geanker te bly in God se Woord en die beloftes wat daarin vervat is.

In Deuteronomium waar ek tans lees kom dit soos ʼn refrein..
“Ek is die Here”.
As jy die stelling woord vir woord en om die beurt aksentueer kry jy verrassende perspektief.

EK is die Here
Ek IS die Here
Ek is DIE Here
Ek is die HERE
EK IS DIE HERE

Geen omstandigheid kan jou vrede by jou kom steel tensy jy dit toestemming gee nie.

Dit beteken nie onrealisties voortploeter in ʼn droomwêreld en bestaan nie.

Dit beteken wel lewe vanuit God se beheer, volheid, mag, potensiaal, beloftes, nabyheid, sorg, almag.